Lions se pak en Jantjies verseker Super-halfeindstryd

Malcolm Marx se amper-glimlag vertel reeds van sy drie-vreugde ná sy onderskepping. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Goeie losskakel agter ʼn goeie pak voorspelers was nog altyd ʼn wenresep.

Dít het die Jaguares Saterdag op Ellispark deeglik uitgevind toe die Lions hulle met 40-23 in die laaste kwarteindstryd van 2018 se Superrugbyreeks geklop het.

Elton Jantjies het die twis oor wie Handré Pollard se losskakel-adjudant vir die Springbokspan  moet wees, deeglik besweer. Hy was uitstekend.

Jantjies het 20 punte aangeteken, en ʼn rare skepdoel van hom het gehelp dat hy 20 van die 43 punte agter sy naam kon skryf.

Voor Jantjies en sy skrumskakel Ross Cronjé het die Lions se voorspelers die Argentyne, met feitlik hulle nasionale span op die veld, stukkend geskrum.

Die Lions het Saterdag nie net teen die Jaguares gehardloop nie. Daar is sterk geskrum en sterk ingeklim. Die flank Clyde Brink, sy plaasvervanger Marnus Schoeman, die werkesel-Bokslot Franco Mostert en sy slotmaat Marvin Orie, wat met sy ontwikkeling op dié vlak groot indruk maak, was uitstekend.

Kwagga Smith werk in die vastelos en by die afbreekpunte baie hard, en Warren Whiteley se skakeling in kontinuïteit het benewens sy leierskap die grondslag vir die sege gelê.

Malcolm Marx se teenwoordigheid om omkeerbesit by die afbreekpunte te wen, sy krag in die skrums en ook sy aanvoeling soos toe hy op ʼn kritieke stadium ʼn onderskepdrie gaan druk het, wys hoe die Lions en die Bokke hom tydens sy onlangse besering gemis het.

Daar moet egter ook volpunte gaan aan die agterspelers, wat hul kanse gebruik en gesorg het vir ʼn wedstryd wat deur ʼn spanpoging en samespel gewen is.

En so van samespel gepraat, wat ook op spangees dui: ná rustyd was dit ʼn vasberade Lionsspan wat vlamgevat het net toe die Jaguares skielik aan die gang gekom en die Lions se rustydvoorsprong van 24-9 na net 27-24 vernou het.

En toe het die Lions weer oorgeneem.

♦ Met dié gehalte rugby, behoort die Lions mans genoeg te wees om die Waratahs Saterdag in die halfeindstryd op Ellispark te klop.

Die Lions speel nou aanstaande naweek teen die Waratahs, wat self op hulle stukke was toe hulle Saterdag die Highlanders in Sydney met uitstekende spel na rustyd uit die kompetisie geboender het. Die Waratahs het met 30-23 gewen nadat hulle rustyd met 6-23 agter was en in die tweede helfte 24 onbeantwoorde punte aan geteken het.

En wie weet wat daarna wag teen die Crusaders of die Hurricanes, wat nie sommer ʼn reekssege teen die Lions as vanselfsprekend moet aanvaar nie.

Puntemakers ‒

Lions (24) 40: Drieë: Ruan Combrinck, Harold Vorster, Malcolm Marx, Andries Coetzee. Doelskoppe: Elton Jantjies (4). Strafdoele: Jantjies (3). Skepdoel: Jantjies.
Jaguares (9) 23: Drieë: Bautista Delguy, Pablo Matera. Doelskoppe: Nicolas Sanchez (2). Strafdoele: Sanchez (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willie ·

Mag hy net bly by die Lions, dis sy verhoog. Bietjie groter en Elton verdwyn.

Jean ·

Goed so Lions..
Wim dit help nie Jantjies speel een goeie wedstryd en dan tien swakkes nie….Jy kan hom maar ophemel soveel jy wil maar as hy nie bestendig speel en onder druk presteer nie is hy nie die beste skrumskakel nie jammer…Maar krediet moet hom sekerlik die keer toegeken word..
Daar is n hele paar Lions speles wat in die Springbok/Bontebok span hoort op verdienste ,op meriete..

Hendrik UAE ·

Jantjies die hero tot hy weer die trappie op moet gee of sy voorspelers sukkel?Hoeveel kere was hy al opgehemel net tot hy man moet staan.

frans C ·

‘n Wedstryd met positiewe en heelwat negatiewe aspekte vir die Lions. Marx en sy medevoorspelers was by tye uitstekend veral op verdediging naby hul doellyn,veral toe die Jaquares verbete aangeval het.

Dit was egter kommerwekkend dat die agterspelers by tye verspot maklik geklop is deur die Argentyne,wat eintlik Argentina se nasionale span is.Die Waratahs het bewys dat ‘n geelkaart ‘n span kan kelder,veral as dit ‘n agterspeler is, en dat hul maklik ‘n groot voorsprong kan omkeer na ‘n oorwinning.

Die Lions sal dus meer oordeelkundig moet skop en nie net doelloos veldaf nie.Skakel hul onnodige foute uit behoort hul die eindstryd te haal.

Bantam ·

Hy raak onslae van die bal asof dit hom brand . Speler van die wedstryd ????????????

SjN ·

Laat Jantjies sy talent op daai vlak uitleef, een stap opwaarts en dit misluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.