Lions se pak speel die Stormers stil vir ʼn eerste Nuweland-sege

Malcom Marx wat die Lions gehelp het om die skrumstryd te wen (Foto: GB Jordaan)

Die Lions het gewys dat hulle meer as net ʼn hardloopspan is toe hulle die Stormers Saterdag op Nuweland voorlangs meer as net in toom gehou het en hul kanse agterlangs deeglik gebruik het om met ʼn bonuspunt 29-16 te wen.

Dit was die Lions se heel eerste oorwinning op Nuweland, en dit is gedoen met nie alles wat deurgaans vir hulle reg verloop het nie.

Rohan Janse van Rensburg se besering na vyf minute was ʼn massiewe terugslag, maar toe kom sy plaasvervanger Harold Vorster, druk sy span se tweede drie en word as die speler van die wedstryd aangewys!

Andries Coetzee is net voor rustyd (ongestraf) hoog geloop en het nie uit die rustyd-spankamer gekom nie. Toe gaan druk sy plaasvervanger Sylvan Mahuza die drie wat hulle buite bereik plaas en die bonuspunt bring.

Terloops, en hier wys ʼn mens nie vinger net na die Kapenaars se spanbestuur nie, almal doen dit: hierdie ding dat spelers agter die pale opwarm terwyl die wedstryd aan die gang is, moet gestaak word.

Dit het kort na rustyd die Lions se skrumskakel Ross Cronjé verwar toe hy gedink het dis sy losskakel wat langs die regop paal staan. Hy het van sowat 15 meter weg uitgegee, die Stormers se speler het pad gegee en die bal is oor die doodlyn.

En toe het daardie tien minute se walgooi met ’n vyfmeterskrum begin waar die Stormers binne feitlik tien minute met ’n paar van die Lions gedryf en gemaal het, sonder deurkomkans teen ʼn span wat geweier het om bes te gee.

Dit is ook noemenswaardig dat die Lions teen ʼn pak met sewe Springbokke gespeel het. Ja, JC Janse van Rensburg is Springbok nr 847 hoewel hy nooit die groentrui aangetrek het nie. Net Sikhumbuzo Notshe van hierdie opdraf-pak is nie ʼn Bok nie.

Die Lions se vaste vyf  is gelei deur Andries Ferreira, wat altyd baie hard werk, maar selde raakgesien word. Hy was uitstekend, en net-net agter hom was sy slotmaat Franco Mostert wat ook in die donkerte van die vaste spel homself nerfaf gewerk het.

Van die twee goeie skrumpakke was die Lions net daardie rapsie beter daaraan toe. Hier verdien die voorry-ysters Ruan Dreyer in sy 50ste wedstryd, Malcolm Marx en Jacques van Rooyen groot lof. Met hierdie trio van die tuisspan en met die pak wat aggressief en uitstekend was, was die agterlyn se spel ook goed.

Dis veral so omdat Cronjé sake agter die pak gedikteer en pragtig afgewissel het.

Vier drieë teen een, met ʼn agterlyn wat nie gereken is nie teen die jong agterlyn van die Kapenaars wat vol belofte is, maar nie op hierdie vlak in hulle eerste werklike taai wedstryd oortuig het nie, voltooi die storie.

Puntemakers –

Stormers (13) 16: Drie: Dillyn Leyds. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Du Preez, SP Marais 2
Lions (22) 29: Drieë: Malcolm Marx, Harold Vorster, Jaco Kriel, Sylvian Mahuza. Doelskoppe: Elton Jantjies 3. Strafdoel: Jantjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eugene ·

So bly dat die Lions bewys het, hulle speel saam met die groot spannen

Peet ·

Lekker om ‘n verslag te lees waar die Stormers se dolle nie gepruim word nie!

Gawie ·

Welgedaan Lions, eerste wen op Nuweland. Lyk asof die Lions nou weer begin speel soos laasjaar. As Stormers ondersteuner nie eintlik verbaas nie. My span het bo verwagting (veral met 12 beserings al vanjaar) sover gevaar. Hulle gaan nog verloor in NZ ook. Ek voorspel ook dat die Bulle nou baie beter gaan vaar terwyl hulle terug is op Loftus. Stormers behoort egter steeds hulle konferensie te wen en hopelik is van die beseerde spelers terug teen daardie tyd.

Frans C ·

Die feit dat die Lionspak die hoog aangeskrewe Stormerspak op hul tuisveld pak gegee het was mi die hoogtepunt van die naweek.

Scalla ·

Geluk leeus, kholisi moes n geelkaart gekry het, net weereensf bewys die Stormers peak altyd te vroeg, die snoek en patats was seker suur gister aand, go lions

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.