Lions se rugby op ander planeet as die res sʼn

Ruan Combrinck het sy eerste Superwedstryd vanjaar gevier deur twee keer te gaan druk. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls se Lions-buurmanne van oorkant die Jukskei het hulle Saterdagaand op Ellispark ʼn loesing van 51-14 toegedien nadat hulle rustyd met 39-14 voor was.

Daar is steeds iets nie reg in die Bul-kamp nie. Waar is hul veggees van ouds?

Sewe drieë teen twee vertel wie onteenseglik baas was – en steeds is daar geen antwoord op die vraag hoe dit reggemaak gaan word nie.

Wat die Suid-Afrikaanse rugbylandskap betref is die Lions op ʼn ander planeet. Uitnemendheid wat uitvoering betref maak die Lions gelykstaande aan hul Nieu-Seelandse eweknieë.

Kyk maar na Kwagga Smith se drie in die 22ste minuut. Of Ruan Dreyer s’n oomblikke daarna.

Jesse Kriel se daaropvolgende drie was goed vir die Bulls se telbord, en Jan Serfontein  se vroeë drie was die soort wat ʼn mens meermale van die Bulls verwag. Maar hierdie Lions se brul was van meet af harder as die Bulls se bulk.

Warren Whiteley se skitterdrie het dit kort ná Kriel se pragpoging bewys.

Die Lions se vermoë  om omgekeerde besit in aanval te omskep is ‘n karaktereienskap wat die manne van die Goudstad nie in die steek gelaat het nie. Ruan Ackermann, Kwagga Smith en Warren Whiteley is bes moontlik die beste lostrio in die Republiek, hoewel Siya Kolisi se uithaler vertoning teen die Blues weer eens sy waarde onderstreep het. Jaco Kriel moet ook nog terugkeer …

Ruan Combrinck se twee drieë in die het net weer gewys hy is pure goud, soos ons al seisoene lank weet. Hy was nie aanvanklik gekies nie en is eers later nadergetrek in Sylvian Mahuza se plek.

Elton Jantjies was uitmuntend. ʼn Mens hoop maar nie hy verwelk weer onder Allister Coetzee wat klaarblyklik ʼn slag daarmee het nie.

Só het die Lions saamgejag en die oormag bewerkstellig. (Foto: GB Jordaan)

Die rustyd-gesprek tussen Marais en sy Bulls was soveel werd soos die reënvooruitsigte in die Wes-Kaap. Swak verdediging was weer aan die orde vir die manne van Pretoria in ʼn wedstryd wat duidelik bo hulle vuurmaak plek was.

Binne die tweede minuut van die tweede helfte het Franco Mostert oorgeduik vir nog vyf punte. Lionel Mapoe met sy kapokhaankuif-gebaar het gesorg vir nóg een toe tyd verstreke was.

Die tweede helfte was rêrig ‘n getjommel, maar ná so eerste helfte deur die wenspan, wat maak dit saak?

Aan die Bulls se kant het Jesse Kriel in die eerste helfte op heelagter uitgeblink.

Puntemakers –

Lions (39) 51: Drieë: Ruan Combrinck 2, Kwagga Smith, Ruan Dreyer, Warren Whiteley, Franco Mostert, Lionel Mapoe. Doelskoppe: Elton Jantjies 5. Strafdoele: Jantjies 2.

Bulls (14) 14: Drieë: Jan Serfontein, Jesse Kriel. Doelskoppe: Francois Brummer 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Stormer ·

Wa die Bulls manne. Fooitog, julle maar dêm stil…… ?

koos ·

nie eens die bulle se eie skeidsregter sal vir hulle n wen kan uitblaas nie. onafgerigde, onfikse en lae vlakke van balvaardighede.

CFS ·

Vanaand lekker stil in Pta,geen gejaag van al wat leef en beef in Lynnwood nie.Wonder of Allister ń tweede gedagte oor Faf het.

Veritas ·

Ek is al die afgelope 54 jaar ‘n stoere Bulle ondersteuner maar dit word al moeiliker om dit in die openbaar te erken. My Bulls baadjie is deesdae slegs daar om die koue uit te hou en nie meer om mee te spog nie. Bygesê is dit nie die enigste unie wat ondersteuners skaam maak nie. Ek kry die gevoel dat rugby in SA, besig is om ‘n stille dood te sterf.

SP ·

Geluk aan Barend en Nollis met jul radikale transformasie op Loftus,van n Bul na n melkkoei,dis wil gedoen wees! Pateties.

Moedige Bloubul ·

Ons moet maar vasbyt kerels..Een of ander tyd sal die vrot appels uit gegooi word….Weet ni hoe lank dit gaan vat om di skade te herstel nie maar ons moet probeer positief bly.( weet dit is moeilik) Maar ek is i blou bul in murg en been. Maak ni saak hoe benard dit gaan ni. Ja. Ek is ook keelvol vir di geploeter en gespot van my mede kollegas by di werk. Maar ek is i optimis. Dinge sal weer goedgaan.

Herman ·

Ek was gister by die wedstryd. As Leeu ondersteuner was ek geweldig beindruk met die Bulls ondersteuners in die skare. Hulle is die bittereinders wat by hulle span staan kom wat wil. Die draaipunt van Bulls rugby is om die draai en dan sien ek sware dae vir die res van ons.

Frans C ·

Wat het geword van by jou span staan deur dik en dun.’n Span bly nie altyd bo nie.Daar is hope talent by die Bulle.Die probleem is dat die afrigter nie kan besluit wie sy beste 15 is nie.

Dan is Serfontein en dan is hy uit.Daar kan geen sprake van selfvertroue wees nie,as die afrigter gedurig veranderinge maak.

Koos1 ·

Frans. Met alle respek,die span het hope talent maar geen vaste spel patroon nie. Gister het die Lions met ‘n plan op die veld gestap, soos die Bulls. Die verskil was dat die Lions geweet het hoe om die plan uit te voer.

Frans C ·

Koos1

Dit is waar, maar as jy gedurig saam met iemand anders moet speel,kan daar geen patroon wees nie,want elke ou speel tans net om sy plek in die span te hou.Kyk maar na die skakelpaar elkeen het sy eie manier van speel en moet senters gedurig aanpas.

Die probleem lê dus mi nie in die eerste plek by die spelers nie maar wel by die afrigter en sy spankeuses.As Serfontein jou beste senter is,dan speel jy hom.Jy kan nie verwag dat hy afhanklik van die afrigter se wisselvallige spankeuses by die span sal bly nie.

Bollie ·

Die Bulle is pateties so kan nie regtig as maatstaf tans diens nie. Ek stem saam die Lions is ons beste span tans maar ek dink nie die gaping is baie groot tussen hulle, Sharks en Stormers nie. Hulle was baie gelukkig om die Sharks op EllisPark te wen en die laaste wedstryd tussen die twee spanne gaan interessant wees. Hulle het ook teen ‘n erg verswakte Stormers span gewen wat deur beserings gery is die seisoen.

Frans C ·

Bollie
Dit is darem nie waar nie,Stormers was bykans op volle sterkte.Onthou Lions het vroeg hul ster senter verloor in die wedstryd.

Bollie ·

Twak man, die Stormers het teen daai tyd al omtrent twaalf spelers aan beserings vir die seisoen afgestaan. Die Stormers het die meeste beserings van al die spanne in die kompetisie hierdie seisoen.

Henry ·

Enigste kans wat die stormpies teen die Leeus het, is met Jaco Van Heerden as skeidsregter wat ook moet help om Leeus te “tackle” voer en dat minstens 4 Leeus met geel-, verkieslik rooi-kaarte vir 78 minute van die veld af is.

Bollie ·

Alles help niks want die Lions kan nie hierdie spel deurvat tot op toetsvlak waar hul spelers faal nie. En die redes – jy kan nie soos ‘n afkophoender hardloop die heeltyd in ‘n toets nie; hulle verdediging is nie op toetsstandaard nie (eintlik ook nie op enige ander standaard nie maar hulle kom daarmee weg in superrugby at oor die algemeen maar glorified netbal is).

Frans C ·

Bollie,
Jy klink vir my gefrustreerd ou. Die Lions word op toetsvlak deur Coetzee gedwing om ‘n ander spelpatroon te speel. Jantjies se spel het ook by die Stormers erg verswak,Coetzee klou vas aan ‘n ou oudgediende Stormers spelpatroon.

Die lions speel volgens ‘n NZ-spelpatroon. Op die patroon kan ‘n spel gespeel word wat kan aanpas by omstandighede.Dit is maar dieselfde wat VW doen ,hulle gebruik dieselfde platform om verskillende modelle op te bou,wat elkeen dadelik herkenbaar is.

NZ oorheers rugby want hul patroon is die mees geskikte tans,want dit word van kleinsaf aangeleer. In Suid Afrika is daar soveel patrone as wat daar afrigters is.

Bollie ·

Die NZ spanne verdedig baie beter as die Lions, daar is ook geen manier waar die Lions ‘n span soos die Crusaders in NZ sal klop nie (hulle sal hulle ook nie in SA klop nie). Die NZers speel ook heeltemal anders in ‘n toets. Hulle het die vaardighede om hul spel goed af te wissel met goed geplaasde skoppies, ens. Die Lions ken net van afkophoender hardlooprugby sonder verdediging, ‘n fatale resep vir toetsrugby. Daar sal ‘n balans gevind moet word vir toetsrugby, die Lions se manier van speel sal nie werk nie (nie teen die sterk toetslande nie).

Frans C ·

Beste Bollie,
Soms praat jy bollie,die Leeus het toe dit saak gemaak het laasjaar, die Crusaders en die Hi-landers in Suid Afrika geklop,Noem die twaalf spelers van die Stormers wat nie teen die Leeus beskikbaar was en vertel hoekom hul beter was as die 23 wat gespeel het.

Riaan ·

Geen SA span sal die Crusaders in Christchurch wen nie.
Weer eens enige iemand kan die beker wen, net nie die useless bulls nie.
Hulle het al die jare weg gekom met n ref aan hulle kan, seker nie meer genoeg geld om een te bekostig nie whahahaa!!!!

Bollie ·

Fransie – Kom ek noem so ‘n paar: Senatla, Zas, De Jongh, De Allende, Huw Jones, Michael du Plessis, Jean-Luc du Plessis, Scarra, Wilco Louw, Elstad (almal langtermynbeserings). Twee spelers (een was ‘n nuwe flank) is die vorige wedstryd beseer en kon nie speel nie. So daar het jy jou 12. Nou kyk ons verder – Jy kan die berigte opsoek en sien dat beide Etsebeth en Stef du Toit ook beseer was en eers laat in die week ingesluit is. Vermaak en Carr het vir die eerste keer weer gespeel na ‘n lang tyd uit met beserings, ens.

Frans C ·

Senatla was soos Kwagga by die Blitsbokke.Huw Jones is in Skotland beseer.Onthou Vorster het van ‘n langtermyn besering, teruggekom,Springbokke Combrinck en Redelinghuis was nie daar nie,Mnisi is beseer.En so kan ek aangaan en netsowel sê dit was nie die Lions se beste span nie.

Beserings was altyd deel van die sport en enigeen wat dit as ‘n verskoning voorhou
is maa rin my opinie net ‘n swak verloorder.Endaar het jy dit.

Kollie ·

Hoe sal die Leeus span lyk sonder 12 staatmakers? Erken dit maar ouboet, julle het teen ‘n erg verswakte span gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.