Lions se tuisveld, skietgoed lyk te veel vir Stormers

Die Lions wil hulle onoorwonne rekord van meer as drie jaar teen Suid-Afrikaanse spanne Saterdag op Ellispark verder verleng.

Hulle behoort dit reg te kry in ʼn derbywedstryd teen die Stormers wat, soos die Lions, die seisoen nog glad nie op alle silinders loop nie.

Trouens, ondanks die Lions se gesukkel as jy dit met vorige seisoene vergelyk, kom hulle daardie tikseltjie skerper voor as die Kaapse span wat ietwat patroonloos is en nie hulle samespel regkry nie.

Boonop het die Lions tot dusver meer drieë (5 per wedstryd) as enige ander span in  die reeks gedruk, en het die Stormers die meeste afgestaan. Hulle het ook die tweede swakste têkkel-rekord.

Dit maak alreeds die stryd tussen die sukkel-verdediger Raymond Rhule en Ruan Combrinck, wat ná byna ʼn jaar weer in Suid-Afrika speel, die moeite werd.

Kwagga Smith kry kans om teen Siya Kolisi (weliswaar ʼn nommer  7-flank) en die agsteman Nizaam Carr gemeet te word nadat hy nie na Rassie Erasmus se jongste kamp van Sondag af genooi is nie; en Damian Willemse word teen nog ʼn huidige Bok, Elton Jantjies, gemeet.

Oor die Lions se rekord van Superseges moet daar nie te veel sinisme wees oor wat tuisveldvoordeel vir ʼn span beteken nie. Hulle het in Februarie 2015 laas ʼn stryd op tuisgrond teen ʼn Suid-Afrikaanse span (toevallig die Stormers) verloor.

Die Lions het tot dusver nie gekliek nie; die Stormers sal seker voel hulle ook nie. Maar op hulle tuisveld, en met meer skietgoed onder hulle speelpersoneel, behoort die Lions Saterdag se stryd redelik oortuigend te wen.

Indien nie, is ons rugby in groter moeilikheid as wat ons dink…

Spanne

Lions

15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Madosh Tambwe, 10 Elton Jantjies, 9 Dillon Smit, 8 Hacjivah Dayimani, 7 Cyle Brink, 6 Albertus Smith, 5 Francois Mostert (kapt.), 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Jacques van Rooyen, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman, 21 Marco Jansen van Vuren, 22 Howard Mnisi, 23 Sylvian Mahuza.

Stormers

15 Sarel Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 EW Viljoen, 12 Damian De Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Jano Vermaak, 8 Nizaam Carr, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Chris van Zyl, 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Siyabonga Ntubeni, 17 Jacobus Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Kobus van Dyk, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Jaco Coetzee, 22 Paul de Wet, 23 Craig Barry.

Skeidsregter: Jaco Peyper (Suid-Afrika)

Assistentskeidsregter: Rasta Rasivhenge (Suid-Afrika), AJ Jacobs  (Suid-Afrika)

TV-skeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Josua keys ·

Stephen, Kwagga is n yster maar laasweek het hy drie keer die bal aangeslaan in kretieke oomblike en sy verdedeging was bietjie af, dit dui daarop dat die speler sielkundig moeg is en nie kan konsentreer nie, ek dink Swys was reg om Kwagga n breek te gee die volgende wedstryd sal jy sien is hy weer die ou kwagga wat ons ken, jy kry soms ‘n DIP in jou spel en die konsentrasie is nie dieselfde nie maar kry jy n kans om te rus gee dit jou kans om te hergroepeer en jou spel sal outomaties weer optel. Sterkte Kwagga !!!!

Josua keys ·

Ek is so bly dat Swys na die afgelope twee jaar ook nou besef wat het hy in Dillion Smit as skrumskakel, ek het sy potensiaal reeds goed gepraat in die begin van 2016 maar hy het altyd in die skadu van Faf en Ross gespeel, as Swys die man net wil toelaat om sy eie game te speel gaan groot dinge nog agter by die Leeus gebeur, hy lees die wedstryd baie goed, is vinnig en kan op sy voete ding en het ‘n uitstekende vinnige aangee, ek dink hy moet meer kans gegun word om besluite te neem agterlangs. Toe Faf gespeel het moes jy wakker gewees het want hy was soos n Jack Russel en kan enige plek opduik of n beweging begin. Waar die leeus hulle vingers verbrand het die afgelope paar wedsrtyde is omdat Ross en Dillion se spel volgens opdrag uitgevoer was en Jantjies het dit van agter geroep, dit het afgesaag geraak en die opposisie het elke keer geweet wat die bewegings gaan wees, daarom hoop ek Swys lees my skrywe en sal toelaat dat Dillion sy ding doen om onsekerhheid te skep vir die opposisie begin altyd by die skrumskakel, Joost het was n eister daarmee. Dillion Smit sal dieselfde spel bring maar moet kans gegee word om besluite te neem en so nuwe vaardigheid agter langs en voorlangs na die tafel bring, dit is die gehuim in die New Zeeland se spanne en ons afrigters dink dit is skiels, nope!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.