Lions se tuisveld, skietgoed lyk te veel vir Stormers

Die Lions wil hulle onoorwonne rekord van meer as drie jaar teen Suid-Afrikaanse spanne Saterdag op Ellispark verder verleng.

Hulle behoort dit reg te kry in ʼn derbywedstryd teen die Stormers wat, soos die Lions, die seisoen nog glad nie op alle silinders loop nie.

Trouens, ondanks die Lions se gesukkel as jy dit met vorige seisoene vergelyk, kom hulle daardie tikseltjie skerper voor as die Kaapse span wat ietwat patroonloos is en nie hulle samespel regkry nie.

Boonop het die Lions tot dusver meer drieë (5 per wedstryd) as enige ander span in  die reeks gedruk, en het die Stormers die meeste afgestaan. Hulle het ook die tweede swakste têkkel-rekord.

Dit maak alreeds die stryd tussen die sukkel-verdediger Raymond Rhule en Ruan Combrinck, wat ná byna ʼn jaar weer in Suid-Afrika speel, die moeite werd.

Kwagga Smith kry kans om teen Siya Kolisi (weliswaar ʼn nommer  7-flank) en die agsteman Nizaam Carr gemeet te word nadat hy nie na Rassie Erasmus se jongste kamp van Sondag af genooi is nie; en Damian Willemse word teen nog ʼn huidige Bok, Elton Jantjies, gemeet.

Oor die Lions se rekord van Superseges moet daar nie te veel sinisme wees oor wat tuisveldvoordeel vir ʼn span beteken nie. Hulle het in Februarie 2015 laas ʼn stryd op tuisgrond teen ʼn Suid-Afrikaanse span (toevallig die Stormers) verloor.

Die Lions het tot dusver nie gekliek nie; die Stormers sal seker voel hulle ook nie. Maar op hulle tuisveld, en met meer skietgoed onder hulle speelpersoneel, behoort die Lions Saterdag se stryd redelik oortuigend te wen.

Indien nie, is ons rugby in groter moeilikheid as wat ons dink…

Spanne

Lions

15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Madosh Tambwe, 10 Elton Jantjies, 9 Dillon Smit, 8 Hacjivah Dayimani, 7 Cyle Brink, 6 Albertus Smith, 5 Francois Mostert (kapt.), 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Dylan Smith. Bank: 16 Corné Fourie, 17 Jacques van Rooyen, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman, 21 Marco Jansen van Vuren, 22 Howard Mnisi, 23 Sylvian Mahuza.

Stormers

15 Sarel Marais, 14 Dillyn Leyds, 13 EW Viljoen, 12 Damian De Allende, 11 Raymond Rhule, 10 Damian Willemse, 9 Jano Vermaak, 8 Nizaam Carr, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kapt.), 5 Chris van Zyl, 4 Jan de Klerk, 3 Wilco Louw, 2 Ramone Samuels, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Siyabonga Ntubeni, 17 Jacobus Janse van Rensburg, 18 Carlu Sadie, 19 Kobus van Dyk, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Jaco Coetzee, 22 Paul de Wet, 23 Craig Barry.

Skeidsregter: Jaco Peyper (Suid-Afrika)

Assistentskeidsregter: Rasta Rasivhenge (Suid-Afrika), AJ Jacobs  (Suid-Afrika)

TV-skeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stephen Namibia

Kwagga wys die spul jy is n yster!!

Josua keys

Ek is so bly dat Swys na die afgelope twee jaar ook nou besef wat het hy in Dillion Smit as skrumskakel, ek het sy potensiaal reeds goed gepraat in die begin van 2016 maar hy het altyd in die skadu van Faf en Ross gespeel, as Swys die man net wil toelaat om sy eie game te speel gaan groot dinge nog agter by die Leeus gebeur, hy lees die wedstryd baie goed, is vinnig en kan op sy voete ding en het ‘n uitstekende vinnige aangee, ek dink hy moet meer kans gegun word om besluite te neem… Lees meer »

Lol

Met Peyper as skeidsregter het Lions 10 punte voorsprong.