Lions se tuiswedstryde kan finansiële tameletjie wees

As jy vanjaar nie vroeg in die seisoen na die Lions op Ellispark gaan kyk nie, raak jou kanse min om Suid-Afrika se voorste franchise gereeld voor die moontlike eindrondes in aksie te sien.

Terwyl daar natuurlik niks so lekker vir ʼn span is as om vinnig in ʼn reeks weg te spring nie, en waar tuisveldvoordeel belangrik is, is ses tuiswedstryde uit die eerste agt egter nie noodwendig vir almal ewe goeie nuus nie.

Dit beteken dat die gewone ondersteuner, sonder ʼn seisoenkaartjie, oor die eerste agt weke van Superrugby ses keer sy sak sal moet skud.

Selfs die Lions se getrouste ondersteuner sal ná die euforie en opwinding van ʼn nuwe seisoen seker gaan sit en sommetjies maak voordat die span se eerste loslootjie reeds op 13 April aanbreek.

Teen daardie tyd sou hy al ses keer òf op Ellispark moes geld uithaal òf maar op televisie na sy helde kyk .

♦  Vir die finansiële manne by Ellispark is dit natuurlik ook nie goeie nuus nie. Die rits tuiswedstryde so kort na mekaar kan maklik beteken dat die toeskouers nie week na week in hulle duisendtalle sal opdaag nie – ondanks redelike pryse wat wissel van R60 agter die pale tot R170.

Gaan sit maar gerus en werk uit wat dit vir ʼn gesin van drie sal kos vir ses wedstryde in agt weke, met inagneming van vervoer, parkering, ʼn broodjie en ʼn koeldrank – selfs op die goedkoopste agter-die-pale sitplekke.

♦  Die Lions het boonop die nadeel dat hulle hierdie reeks tuiswedstryde later moet inhaal en speel dus ses van hulle laaste agt wedstryde weg van Ellispark af.

Een van hierdie twee tuiswedstryde ná die halfpadmerk van agt is egter tuis teen die Bulls in hulle laaste wedstryd. Dit kan belangrik wees in ʼn moet-wen-situasie is met die oog op die uitspeelwedstryde.

♦  Vir die Stormers en die Sharks is die bepalings feitlik die omgekeerde. Hulle speel vyf van hulle eerste agt weg en vyf van die laaste agt tuis.

Hierdie twee spanne het egter meer tyd tussen hulle tuiswedstryde wat toeskouers se sakke nie heeltemal so erg as die Lions s’n sal ruk nie.

Die Bulls speel vier van hulle eerste agt wedstryde tuis en vier weg, en dit is ook met hul laaste agt die geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.