Lions se welslae móét na Bokke oorspoel

springbok-rugby-logoDie Lions se sege van 44-29 oor die Hurricanes in die halfeindstryd  van die Superrugbyreeks kan ʼn baie groot hupstoot vir die Springbokke se aanslag  in die komende Rugbykampioenskap wees.

Ja, die Supertrofee staan nog nie in Ellispark se glaskas nie en ja, die Crusaders se voorspelers sal komende Saterdag in die eindstryd nie soos die Hurricanes se pak boedel oorgee nie.

Maar die Hurricanes, verlede jaar se Superkampioen, was vanjaar ongetwyfeld Nieu-Seeland se tweede beste span en die enigste span wat die Crusaders in vanjaar se groeprondes kon klop.

Maar die ou wysheid dat jy nie wedstryde kan wen as jou pak nie oorheers nie, het soos ʼn seer liddoring by die Nieu-Seelanders uitgestaan.

Die Hurricanes was kort voor rustyd met 22-3 voor. Hoe was dit moontlik dat hulle nie daaraan kon klou nie?

Ja, hulle kan vlugflouheid as verskoning  voorhou, maar hoe het die Chiefs dit dan twee keer (vanjaar en verlede jaar) reggekry om die Stormers uit te skakel? Hoe kon die ’Canes dit reggekry om die Lions verlede jaar op Ellispark met 50-17 te klop? En hoe het die Crusaders die Bulls vanjaar op Loftus oorrompel en het die Highlanders dit reggekry om vanjaar drie drieë binne vier minute in die doodsnikke van hul kragmeting met die Cheetahs te druk?

Voor Saterdag se wedstryd is daar gesê dat die Lions nie teen die Nieu-Seelandse spanne in die groeprondes gespeel het nie en dat hulle daardeur gebyt sou word. As ʼn mens Saterdag se vertoning in oënskou neem, was dit eerder tot nadeel van die Nieu-Seelandse spanne.

Die Lions is nou al vir twee jaar die vaandeldraers van Suid-Afrikaanse rugby in die Superrugbyreeks. Hulle gee die toon aan oor hoe daar gespeel moet word en hulle is die span om wie die Bok-afrigter, Allister Coetzee, sy Springbokspan en spelpatroon moet bou.

Daar behoort nou geen twyfel meer te bestaan nie: daar behoort minstens 12 tot 13 Lions in die Bokke se groep te wees, veral as Warren Whiteley van sy besering herstel het om weer die leisels te neem.

Gaan Coetzee die moed van sy oortuiging hê om dit te doen?

En gaan hy die bul by die horings pak en soos die Lions speel?

As hy dit nie doen nie, wag daar slae op hom, wat ook al in die eindstryd teen die Crusaders gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ben ·

Dis nou maar net tipies van ons S A skrywers…..ons is klaar die wenners van die kompetisie….wen die Crusaders eers en begin dan met sulke stellings…almal vergeet hoe swak hulle teen die Sharks gevaar het.

Deon ·

Verlede week het die doemprofete ook gese dat die Lions het swak gespeel teen die Sharks en nie die Hurricanes kan wen nie, we’ll, ons moet meer vertroue he in ons spanne en hulle sterk ondersteun , moet glad nie die Lions onderskat nie, twee jaar na mekaar moet tog iets se of nie?!.

Veritas ·

Ben ek is geneig om met jou saam te stem. Die kans dat die Bokke enigsens gaan hond haaraf maak, is maar gering. Die huidige Springbokgroep is nie die beste wat ons het nie en ons wag mos tot die afskopfluitjie blaas voordat ons aan spangees wil werk. Die Lions se spelers is ‘n hegte groep wat vir mekaar speel. Daar is ‘n trots in die manne wat by die Springbokke ontbreek.

Johanna Botha ·

Die beste mense het die land verlaat nou raap en skaap ons maar met wat oor is .

Kosie ·

Lions moet net nie te lank slaap voor hulle begin speel nie. Ek dink nie hulle sal kan bekostig om met twintig punte agter te wees teen die Crusaders voor hul wakker skrik nie. Dit het nou lyk my ‘n tendens geword.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.