Lions skud spinnerakke teen Glasgow af

Foto: GlasgowWarriors/Twitter

Ai, as dit nie gister in Glasgow begin reën het nie … maar as is verbrande hout.

Die Glasgow Warriors het die Lions met 13-9 in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop nadat hulle rustyd met 10-6 voorgeloop het.

Dit was ʼn geval van so naby, maar tog so ver, want as die Lions nie deur die skeidsregter, Gianluca Gnecchi van Italië geboor is nie oor die eerste (en enigste drie) van die stut Jamie Bhatti nie, kon hulle maklik gewen het. Bhatti het nie die bal oor die doellyn gedruk nie; hy was kort en hoe die beamptes dit kon deurgelaat het, sal net hulle weet.

ʼn Mens wil nie elke keer wanneer ʼn span verloor oor die skeidsregter kla nie, maar dit gee ʼn mens erg sooibrand.

Ook as EW Viljoen, wat heel skaflik op losskakel uit amperse noodweer moes instaan met Jordan Hendrikse en Eddie Fouche albei beseer, nie die bal regstreeks uitgeskop het ná ʼn inskop nie en die Lions kort daarna ʼn lynstaangooi verloor het (seker maar die nat en gladde bal) kon sake so maklik anders verloop het.

Nietemin het die Lions die eerste keer op toer (kom ons vergeet maar van die eerste wedstryd teen Zebre toe hulle soos ʼn sneltrein weggespring het, maar soos ou, afgeleefde lokomotief geëindig het) veggees getoon en met passie gespeel. Hulle het die Warriors in die skrums opgefrommel en hulle het die tuisspan se nerwe op die sintetiese oppervlak afgeduik. Glasgow het ʼn voordeel gehad ten opsigte van gebiedsvoordeel en besit, maar waar dinge erg verkeerd vir die Lions geloop het, was die 17 duikslae waarmee hulle misluk het nadat hulle 75 duikslae moes uitvoer.

Maar die groot pluspunt is dat die Lions die spinnerakke afgeskud het en getoon het dat hulle oorsee kan aanpas.

Punte: Glasgow Warriors 13 (6): Drie: Jamie Bhatti. Doelskop: Ross Thompson. Strafdoele: Thompson (3).

Lions 9 (6). Strafdoele: EW Viljoen (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Glasgow warriors kies hulle beste spelers, geen diskriminernde kwota sisteem gebaseer op velkleur nie ,natuurlik sal hulle beter wees as die lions.

Frans

Natuurlik mag ‘n mens nie ‘n skeidsregter kritiseer nie want die is mos verhewe bo kritiek al kos dit ‘n span ‘n wedstryd,