Lions sorg vir slapelose nagte

Marnus Schoeman het tot die einde probeer, maar die Lions het sleg in Argentinië verloor. (Foto: Twitter)

Diegene wat vanoggend nog om 01:00 wakker was om na die Lions se openingswedstryd van hul 2020-Superrugbyveldtog teen die Jaguares te kyk, het waarskynlik ná die wedstryd onrustig in hul beddens rondgerol. En nie soseer weens opgewondenheid nie, maar meer oor bekommernis.

Want die Argentyne het in Buenos Aires van hul grootste drag slae nóg uitgedeel toe hulle die Johannesburgers met 38 – 8 verrineweer het.

Veral die Jaguares se buitesenter, Matias Moroni, was ’n doring in die besoekers se vlees en hy het twee pragdrieë gedruk. Hy het sy lopies en hardlooplyne tot perfeksie beplan en het gereeld vrae vir die Lions-verdedigers gevra. En soos tienerseuns wat per abuis gedink het hulle skryf Lewensoriëntering in plaas van Wiskunde, het hulle geen antwoorde op sy vrae gehad nie.

Tog het dinge nie té sleg teen rustyd gelyk nie.

Die telling was 10 – 8 in die Jaguares se guns en Len Massyn het met ’n sterk lopie al langs die kantlyn vorendag gekom om vir André Warner oor die doellyn te stuur.

Maar die tweede helfte het in ’n fiasko van epiese proporsies vir die Lions ontaard en die Jaguares het 28 onbeantwoorde punte aangeteken.

Die enigste hoogtepunt vir Lions-ondersteuners was om Hugh Bladen weer op die kassie te hoor.

Hulle speel darem volgende naweek op hul tuisveld teen die Reds. Maar hulle sal beslis hul sokkies baie hoër moet optrek indien hulle weer in die reeks sal wil brul.

  • Puntemakers:

Jaguares: Drieë: Matias Moroni (2), Domingo Miotti, Javier Ortega Desio, Agustin Creevy. Doelskoppe: Miotti (5). Strafskop: Miotti.

Lions: Drie: André Warner. Strafskop: Elton Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Nou wat verwag hulle van ‘n span waarvan Elton Jantjies die kaptein is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.