Lions stert in die lug voor Loftus-stryd

(Foto: GB Jordaan)

Ondanks probleme in die Lions se kamp in die aanloop tot hulle wedstryd teen Glasgow Warriors, het hulle veggees getoon en die Skotse span met 35-24 geklop. Die oorwinning is die Lions se eerste in ses wedstryde. Hulle het boonop ʼn bonuspunt gekry en spring op die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer van die 14de tot die 12de plek.

Die Lions is nou ses punte agter die span in die agste plek en kan selfs nog die uitspeelrondes haal.

Daar was voor die wedstryd heelwat vrae oor wat op Ellispark aan die gang is. Spelers het in ʼn opname baie lae punte gegee vir die afrigterspan en dit was nou nie juis die ideale voorbereiding vir ʼn taai stryd nie.

Die tuisspan het goed begin en was teen rustyd met 27-14 voor. Swak dissipline het amper daardie goeie begin in die wiele gery.

Edwill van der Merwe and Quan Horn het albei geel kaarte gekry en met 14 minute oor in die wedstryd is Ruan Dreyer met ʼn rooi kaart van die veld af gestuur.

Volgende Saterdag is daar weer twee plaaslike tweestryde om na uit te sien. Die Sharks gaan Kaapstad toe om die Stormers, wat steeds tweede op die punteleer is, te probeer klop. Die Lions gaan Loftus toe waar die Bulls sal probeer om te verbeter op hulle huidige sesde plek in die kampioenskap.

PUNTEMAKERS:

Lions 35 (27)

Drieë: Sanele Nohamba, Francke Horn, Manuel Rass, Edwill van der Merwe en Ruan Venter

Doelskoppe: Gianni Lombard (2)

Strafskoppe: Lombard (2)

Glasgow Warriors 24 (14)

Drieë: Elias Caven, Cole Forbes, Tom Jordan en Tom Gordon

Doelskoppe: Jordan (2)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.