Lions-superster word pa

Marnus Schoeman spog met sy babaseun, Muller. Foto: Verskaf.

“Klein Muller is Vrydag 3 April gebore. Dit is die beste dag van my lewe!” het die Lions se woelige blondekop-flank, Marnus Schoeman, gister laat weet.

Maandag was ’n dol dag vir die 31-jarige; hy het gou alles vir sy vrou, Riana, by die huis gereed gekry toe sy vanaf die hospitaal teruggekeer het.

“Maar my mannetjie is nou by die huis,” het hy opgewonde laat weet.

Schoeman is die konstante lig onder ’n groep Lions-voorspelers wat amper met Eskom in vanjaar se Superrugby-reeks vergelyk kan word: Net sodra jy dink dat dinge beter word, tref die beurtkrag jou wanneer jy dit die minste verwag.

Ná ses wedstryde is die Lions laaste op die Suid-Afrikaanse afdeling van die punteleer, maar Schoeman was met elke wedstryd in die begin-vyftiental en ook vir 464 minute van die moontlike 480 minute op die veld.

Dan was hy vir die span se meeste duikslae én drieë verantwoordelik vóór die reeks weens die Covid-19-pandemie afgelas is.

Hy is gereeld ’n doring in sy teenstanders se vlees.. Foto: GB Jordaan.

Die geboorte van klein Muller is egter ’n duisend keer soeter as om die bal onder die Crusaders se neuse in Christchurch te steel en om oor die doellyn vir ’n drie te bars.

“Daar is geen liefde soos wat ’n ouer vir sy kind het nie. En toe ek my seuntjie vir die eerste keer vasgehou het, het ek dit besef.”

Hoewel hy nog nie veel van babas se slaapgewoontes weet nie, is hy trots op klein Muller.

“Ek dink hy slaap baie goed; so tussen vier en vyf uur op ’n slag. Ek maak nou seker dat Riana alles het wat sy benodig, terwyl ek ook darem sy winde kan uitvryf en hom vashou.”

Muller Schoeman is op 3 April gebore. Foto: Verskaf.

Schoeman erken dat hy sy spanmaats gedurende die afsonderingstydperk mis, maar meen dat dit hom darem genoeg tyd gegee het om saam met sy vrou nes te skop.

“Dit is glad nie ’n moeilike tyd om ’n pa te word nie. Ek sien dit as goeie tydsberekening van die Here af, want dit gee vir my en my vrou kosbare tyd saam met ons seuntjie.”

Tog kan hy ook nie wag om weer eendag op Emirates Airline-park uit te draf nie.

“Ek glo dat die Here alles met ’n doel laat gebeur. Die afsonderingstydperk het my weer opnuut laat besef watter reusevoorreg dit is om rugby te speel. Ek het nog nooit gedink dat ons seisoen só vroeg afgelas sal word nie. Ek verstaan nou waarom mense altyd sê jy moet speel asof dit jou laaste wedstryd is.”

En ja, Muller het reeds twee Lions-babapakkies.

Hulle is weliswaar nog ’n bietjie te groot vir hom, maar met ’n naam soos ‘Muller Schoeman’ en met sy ouers se sportgene, moet jy nie té verbaas wees as hy eendag die volwaardige Lions-trui oor sy kop trek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard ·

Baie geluk Marnus en Riana. Mag hy vir julle baie vreugde bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.