Lions trap Sunwolves se tjank af  

Ten spyte van ’n rits beserings het die Lions ses drieë tydens hul wegwedstryd teen die Sunwolves gedruk om vyf waardevolle ligapunte aan te teken.

Die Johannesburgers het die wedstryd met 37 – 24 gewen. Die eerste helfte was ’n deurmekaar affêre met Sylvian Mahuza se professionele oortreding wat hom nie net ’n geelkaart op die hals gehaal nie, maar ook tot ’n strafdrie vir die Sunwolves gelei het.

Maar Malcolm Marx het gedoen waarvan meeste skoolkapteins net kan droom: Hy het as kaptein deur sy voorbeeld gelei.

Die jong haker het die Johannesburgers se eerste drie gedruk en kort daarna hard gewerk om weer die bal vir die besoekers te wen. Dit is dié soort bulterriër-spel wat van hom ’n uiters belangrike skakel maak; nie net vir die Lions nie, maar ook vir die Springbokke.

Die Lions het die dryfmaalbeweging uitstekend aangewend, terwyl die opwindende Tyrone Green sy talent by tye in die eerste helfte op die aanval uitgestal het.

In die tweede helfte het die besoekers beter begin speel. Dit is so eenvoudig soos dit.

Nic Groom het ’n klassieke skrumskakeldrie gedruk toe hy ’n paar verdedigers gefop het, terwyl Lionel Mapoe en Aphiwe Dyantyi hul hardloopvaardighede ten volle benut het om ’n juweel van ’n drie te druk.

Elton Jantjies het 12 punte aangeteken, maar hy het ’n baie swak wedstryd met sy stelskoppe gehad. Sy skopverpligtinge is in die tweede helfte deur Gianni Lombard oorgeneem.

So van Lombard gepraat – hy is beslis een vir die toekoms. As jy opgewonde kan raak oor Damian Willemse, mag jy gerus opgewonde raak oor Lombard.

Dit was weliswaar nie die Lions se beste vertoning nie – hoegenaamd nie – maar ’n wen bly ’n wen. En om ses drieë weg van die huis te druk is nie te versmaai nie.

Puntemakers:

Lions 37 (12): Drieë: Malcolm Marx (2), Nic Groom, Elton Jantjies, Lionel Mapoe, Hacjivah Dayimani. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafskop: Jantjies.

Sunwolves 24 (7): Drieë: Strafdrie, Rahboni Warren-Vasayaco (2). Doelskoppe: Hayden Parker (2). Strafskoppe: Parker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swartwolf ·

Netjiese wen vir die Leeus. Marx wys hoekom hy definetief ‘n beter Springbok kaptein sal maak.

Sonwolwe ·

Ses driee wonderlik met n eind telling van 37. Maak nie vir my sin nie. Ek dink die skopper dans te veel voordat hy skop.
Dankie Lions vir die weg wen.

Gatvol ·

Dankbaar vir die wen Daar word egter nog te veel punte teen hulle aangeteken. Beslis iets fout met hulle verdediging. Swys sal beslis meer aandag hieraan moet gee. Ek kry die indruk dat aanval alles is en dat verdediging tweede kom. Daar moet n belans van altwee wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.