Lions val weer oor die laaste hekkie

Ruan Combrinck aan die hardloop met die Crusaders-kaptein Sam Whitelock wat hom nie kan inhaal nie. (Foto: Facebook @LionsRugbyCo)

Platgeslaan, maar die Lions kan hul koppe met trots omhoog hou.

Ja, vir die derde keer ná mekaar was hulle strooijonker in ʼn Superrugby-eindstryd, maar hoe gaan jy dit verander?

Die Lions het Saterdag in Christchurch (weer) die aftog geblaas toe die Crusaders hulle met 37-18 geklop het nadat die tuisspan rustyd reeds met  20-6 voor was.

Die Crusaders het slimmer gespeel, die Lions se sterkpunte uitgebuit en van die beste vertonings op die verdediging gelewer wat nog in ʼn eindstryd gesien is.

Daar was vooraf baie min kenners wat die Lions ʼn werklike kans gegee het, maar hulle het moedig vertoon en dalk vlei die telling die Crusaders. Aan die ander kant, dit het nooit gelyk of die Lions sou wen nie.

Ja, hulle het gebiedsvoordeel  geniet (56% teen 44%), meer as genoeg besit in die lynstane (14 teen 8) en in die los verower, net ses strafskoppe teenoor die Crusaders se 15 afgestaan en boonop is Ryan Crotty met ʼn geelkaart gestraf, maar steeds kon die Lions dit nie uitbuit nie.

Hulle het vasgeloop teen ʼn onpriembare verdedigingspatroon. Die statistieke vertel die verhaal: Die Crusaders het 180 duikslae teenoor slegs 115 van die Lions uitgevoer en in die proses gesorg dat die Lions agter die voordeellyn gewurg is.

Was dit die Crusaders se taktiek om die Lions só te klop?

Was dit die Crusaders se taktiek om die Lions toe te laat om die meeste van die aanvalswerk te doen, maar hulle in foute in te dwing? Dit het in die Lions-kamp ook tot onsekerheid gelei of daar pale toe geskop moes word en of daar eerder drieë gedruk moes word.

Die Lions se groot sterkpunt vanjaar was hul rolmale van die lynstane af, maar hulle kon baie selde voordeel daaruit put.

Die Crusaders het hul huiswerk gedoen, baie deeglik. Hulle het Malcolm Marx heeltemal geneutraliseer en die druk op Ross Cronjé (wat bloot ʼn skakel was) en Elton Jantjies laat oplaai. Hulle het ook op Andries Coetzee geskop want hulle het geweet dat hy teenaanvalle sou loods en nie die bal agter die Crusaders sou plaas nie.

Net soos verlede jaar teen die Crusaders én die vorige jaar teen die Hurricanes, het die Lions oor die laaste hekkie gestruikel.

Om ʼn Superrugby-eindstryd te wen, sal daar spesiale oomblikke deur spesiale spelers moet wees.

Puntemakers ‒

Crusaders (20) 37: Drieë:  Seta Tamanivula, David Havili, Mitchell Drummond, Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoele: Mo’unga (3).
Lions: (6) 18: Drieë: Cyle Brink, Malcolm Marx. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Oudste ·

Die Leeus is ‘n baie spesiale span. Om egter teen ‘n span te speel waar daar ten minste 50% van die span deur deurwinterde All Blacks opgemaak is, is geen maklike taak nie. Derde jaar silwer in die Super Reeks sal seker vir party ondersteuners nie goed genoeg wees nie. Dit blyk egter dat vir die oorgrote meerderheid waarvoor dit nie goed genoeg is nie, nie Leeus ondersteuners blyk te wees nie. Hulle is my span en ek is trots op hulle, baie trots.

Piet Pille ·

Oudste ek stem volkome saam met jou, die Leeus kan hul koppe hoog hou.

DHK ·

Naas Botha het eens gesê, wys my ‘n goeie verloorder en ek wys jou ‘n aanhoudende verloorder. Miskien moet die Leeus en hul ondersteuners dit bepeins…

Frans C ·

As jy drie keer probeer en dit nie maak,moet daar tog besin word oor dit wat nodig is om die knoop deur te haak.Jy kan gtaris punte gee nie.
Die eerste 3 het gekom vanaf die sg. ‘Lasarus-bal’ ‘n bal wat gelyk het of dit doodgedruk kon word,reeds op die doellyn en spring toe terug in die speelveld,waar Jantjies dit optel en oorneem en dooddruk.
Die 2de ‘n doellose skop wat tot ‘n teenaanval en drie lei.
Die Crusaders het die Leeus se lynstaandeyf geneutraliseer,alhoewel hul by tye mi te vroeg begin dryf het,nog voor die lynstaanspringer se voete behoorlik op die grond is.
By die afbreekpunte het hul oor hul speler gedryf en so die Lions se Marx en ander
geneutraliseer omdat die geen ondersteuning betyds geniet het .

Tog was daar goeie spel van die Lions veral in die eerste 20 minute,waar hul net nie kon afrond nie.As jou beste span dit 3x nie kon maak nie,is dit nie tryd vir afkraak nie,maar herbesinning hoe om die span beter te maak.
Dit kan net gebeur as SARU beheer neem en soos NZ inspraak op speler toewysing het.
Dit beteken niks dat ander spanne met hope spelers op hul reserwe bank sit en nêrens kom nie.’n Speler soos Curwin Bosch of bv Manie Libbok sou ‘n groot verskil aan die Lions se slaankrag op losskakel gemaak het.

Wesley ·

Dit was nou goeie rugby, beide spanne, en crusaders by ver die beste. Sal tot internasionaal kan meeding met so span, as so iets toegelaat was. Welgedaan Whitelock en sy spelers. Robertson het iets beet met daai span en hoop hul kan vasklou aan dit. Dankie vir die Lions wat hul koppe omhoog kan hou na so n wonderlike seisoen. Positiewe rugby. Die eindstryd gehaal met die meeste driee, minste geelkaarte en minste kanse doelgeskop en altyd vir die lyn gegaan. Nooit was daar bespiegel oor hul met vuilspel en snaakse taktieke nie. Watse span kan nou se van hulself en nogsteeds n eindstryd te haal. Trots om so span te ondersteun. Altyd teen enige span n kans en nogsteeds n positiewe spelpatroon. Dankie Swys en die manne. Nooit gekla, altyd gepraat dat die manne hul rugby moet geniet. Jul bring die genot weer terug in rugby vir die spelers. Dit het begin by Ackers se geloof in sy spelers maak nie saak van die “big names en egos” en Swys wat daai vaandel verder dra. Dankie dankie dankie. Mag daai geloof oorloop na die Bokke toe.

Hennie ·

Die leeus is die enigste span wat nie die jaar n New zealandse span kon wen nie . Ons moet net begin glo ons kan.

Jan van Niekerk ·

SA spanne sal nie maklik eindstryde wen in NZ of Aus nie. Dit sal egter ‘n ander saak wees as die eindstryd in SA is of minstens neutrale land met neutrale skeidsregtets. Vlugvoosheid speel ‘n groter rol as wat mens besef. GOED BEDOEN LIONS!!

bollie ·

Crusaders het verlede jaar die leeu-spannetjie op Ellis Park kafgedraf. Nie goed genoeg nie so eenvoudig soos dit.

Oudste ·

3/3/18 Crusaders 45, Stormers 28. 23/03/18 Crusaders 33 Bulls 14. 21/07/18 Crusaders 40 Sharks 10. Nie goed genoeg nie, so eenvoudig soos dit, Bollie.

Flojo ·

Dit is wedstryde soos die wat n mens laat besef hoe swak SA se rugby is. As dit ons beste span is het ons groot probleme.

Ben ·

Vir my het hulle goed gespeel maar 1) kort ‘n goeie loskakkel – Jantjies is nie die man nie. 2) ‘n Heelagter wat die pos van heelagter verstaan en 3) Hulle agterlyn speel te vlak. As jy bietjie dieper speel dan moet die anderspan se agterlyn op kom na jou toe . Omdat hulle nie met dieselfde spoed opkom nie (ongelyk) veroorsaak dit gappings. Gaan kyk gerus na Japan se agterlyn en na Danie Gerber se video’s en leer. As jy te goed is om te wil leer hou maar aan om bitterpil te sluk.

LHS ·

Coetzee verstaan die pos van heelagter baie goed, een van die redes waarom die Leeus so baie driee druk. Presies so ook Jantjies.

Jean ·

Jantjies jantjies Jantjies.Hy maak droog en gee die Crusaders momentum…ai hy hoort nie daar wat nog in die bontebok span..Nie sleg nie lions maar ek moet ok se Suid Afrika rugby is lugjare agter NZ rugby..kan iemand die man net n behoorlikke haarsny voor betaal dit lyk alte of n grassnyer oor die een kant van sy kop gehardloop het…ai as jy so wil uitstaan moet jy teminste dit werd wees….

Henk ·

Betaal die WP om Jantjies te vat en bele in n ordentlike regte losskakel. Een wat onder druk kan dink en doen. Hopelik het die Bok keurders en Rassie gesien dat Jantjies NIE die beste is NIE!!

Joshua ·

Tyd dat SARU moet besin oor die Super 14; Vat ons spanne Europa toe want daar is alreeds 350+ Suid-Afrikaners wat daar speel wat Springbok rugby weer die beste span in die wereld sal maak.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek sal myself nou nie as die voorste rugbykenner uitgee nie, maar wat ek nie kan verstaan nie, is dit: as die Leeus al die “skop-bare” strafskoppe wat hulle gekry deur die pale geklits het, kon hulle dalk gewen het. As jy by die 1ste lynstaan sien dat jou lynstaan-dryf nie gaan werk nie, hoekom bly jy hardnekkig strafskoppe lyn toe skop…om niks te bereik nie? Hoeveel driëe het die Lions gedruk van strafskop-lynstane af? Hoeveel punte kon hulle gekry het as hulle eerder pale toe geskop het?

Callie ·

Het so meer as n week terug dit duidelik gestel ek sal onverskoning vra as die Leeus wen. SA rugby standaard is deur politiek gereduseer tot baie gemiddeld. Niks gaan verander nie. Inteendeel dit gaan versleg. Solank Jantjies en sulkes span kry hou hulle beter spelers uit wat beter is wat dan oorsee gaan. So het standaarde nou stelselmatig tot hier gedaal. Grootste bewys bly toeskouer getalle by wedstryde. Almal kan stry tot blou in die gesig. Wenspanne trek ondersteuners. Hoekom kan spanne nie meer die standaard handhaaf wat die bulls oor daardie tyd gehad het nie. Die Bokke het in daardie tyd die wereldbeker gewen. Net een rede. Kwotas word afgedwing. Die Habanas en sulkes was wereldklas. Hoekom besef die politici nie wat se onreg word kwota spelers en dus die res aangedoen nie.

Henry ·

Stem Callie.
Solank daar ‘n kwotastelsel is, sal ons nooit op gelyke voet met die res van die rugbyspelende wêreld kan kompeteer nie. Talentvolle spelers verloor belangstelling, waarna hul toks opgehang word en die gelukkiges oorsee verhuis waar regte geld vir ‘n tydjie verdien kan word, sonder diskriminerende kwota vereistes.

Martin ·

Callie, jy slaan die spyker op sy kop! Hierdie kwota monster is besig om Springbokrugby te vernietig, want ons top span word gekies uit verminkte kwota spanne – en moet boonop self aan die kwota gemors voldoen. Uiteindelik sal jy ’n baie beter Springbokspan kan kies uit ons spelers wat oorsee verhuis het! Tragies…

Lewies ·

Ek is n groot leeu maar moet erken dit het tyd geword om te kyk na n ander losskakel en 2 senters en ons kort n slot of twee wat die manne kan sag maak. Franco speel uitstekend maar het n maat nodig wat hom kan help. Schoeman moet bo kwagga gekies word en amper vergeet ek ons kort weer n faf agter die skrum. Ros is heeltemal te stadig. Terug by jantjies hy was vir n tyd baie goed maar dit het na sy kop toe gegaan meer houding as enige iets. SA het het loskakels kry hulle en groei hulle en gee hulle n kans. Ons het van die beste skole en so ook varsity.

Frans C ·

Die Crusaders het hul huiswerk gedoen en die Leeus se sterkpunt geneutraliseer op wat mi
baie na aan obstruktiewe spel was,wat tot talle strafskoppe teen hul gelei het.Dit is nou eenmaal so dat die NZ-spanne eerder ‘n strafskop as ‘n drie sal afstaan.
Veral by die laagvat val hul dikwels oor die bal,gee stadig pad en vertraag sodoende besit
en neutraliseer so vir Marx en Smith.
Die Bulls het oor ‘n groot pak met twee wêreldklas beskik en met die beste taktiese
skoppende losskakel en kon sodoende die spel dikteer.Daarby was hul ook gelukkig
om oor vleuel (oud Leeu) Habana te beskik wat ‘n wedstryd uit die vuur teen die Sharks
geruk het in die doodsnikke van die wedstryd.Daardie dag het die beste span nie gewen
nie.
Takties was die Leeus nie baie goed nie en moes nadat hul ‘maul’ vanaf die lynstaan
nie gewerk het nie dalk iets naders prbeer het.Daar gaan mi te veel tyd verlore.Die haker wat die bal dra moet eers 8 meter hardloop om by die dryfmaal aan te sluit en teen die tyd beweeg die lot al agteruit.

Kry dus soos in die ou tyd ‘n vleuel om die bal in te gooi,sodat jou haker dadelik by die beweging betrokke is.

Francois ·

Jammer Leeus ons kon dit weer nie doen maar ek bly ñ Leeu vir altyd trots op my span en sal altyd wees sal altyd vir jul skree en nie op julle nie Leeu groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.