Lions val weer oor die laaste hekkie

Ruan Combrinck aan die hardloop met die Crusaders-kaptein Sam Whitelock wat hom nie kan inhaal nie. (Foto: Facebook @LionsRugbyCo)

Platgeslaan, maar die Lions kan hul koppe met trots omhoog hou.

Ja, vir die derde keer ná mekaar was hulle strooijonker in ʼn Superrugby-eindstryd, maar hoe gaan jy dit verander?

Die Lions het Saterdag in Christchurch (weer) die aftog geblaas toe die Crusaders hulle met 37-18 geklop het nadat die tuisspan rustyd reeds met  20-6 voor was.

Die Crusaders het slimmer gespeel, die Lions se sterkpunte uitgebuit en van die beste vertonings op die verdediging gelewer wat nog in ʼn eindstryd gesien is.

Daar was vooraf baie min kenners wat die Lions ʼn werklike kans gegee het, maar hulle het moedig vertoon en dalk vlei die telling die Crusaders. Aan die ander kant, dit het nooit gelyk of die Lions sou wen nie.

Ja, hulle het gebiedsvoordeel  geniet (56% teen 44%), meer as genoeg besit in die lynstane (14 teen 8) en in die los verower, net ses strafskoppe teenoor die Crusaders se 15 afgestaan en boonop is Ryan Crotty met ʼn geelkaart gestraf, maar steeds kon die Lions dit nie uitbuit nie.

Hulle het vasgeloop teen ʼn onpriembare verdedigingspatroon. Die statistieke vertel die verhaal: Die Crusaders het 180 duikslae teenoor slegs 115 van die Lions uitgevoer en in die proses gesorg dat die Lions agter die voordeellyn gewurg is.

Was dit die Crusaders se taktiek om die Lions só te klop?

Was dit die Crusaders se taktiek om die Lions toe te laat om die meeste van die aanvalswerk te doen, maar hulle in foute in te dwing? Dit het in die Lions-kamp ook tot onsekerheid gelei of daar pale toe geskop moes word en of daar eerder drieë gedruk moes word.

Die Lions se groot sterkpunt vanjaar was hul rolmale van die lynstane af, maar hulle kon baie selde voordeel daaruit put.

Die Crusaders het hul huiswerk gedoen, baie deeglik. Hulle het Malcolm Marx heeltemal geneutraliseer en die druk op Ross Cronjé (wat bloot ʼn skakel was) en Elton Jantjies laat oplaai. Hulle het ook op Andries Coetzee geskop want hulle het geweet dat hy teenaanvalle sou loods en nie die bal agter die Crusaders sou plaas nie.

Net soos verlede jaar teen die Crusaders én die vorige jaar teen die Hurricanes, het die Lions oor die laaste hekkie gestruikel.

Om ʼn Superrugby-eindstryd te wen, sal daar spesiale oomblikke deur spesiale spelers moet wees.

Puntemakers ‒

Crusaders (20) 37: Drieë:  Seta Tamanivula, David Havili, Mitchell Drummond, Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (4). Strafdoele: Mo’unga (3).
Lions: (6) 18: Drieë: Cyle Brink, Malcolm Marx. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oudste

Die Leeus is ‘n baie spesiale span. Om egter teen ‘n span te speel waar daar ten minste 50% van die span deur deurwinterde All Blacks opgemaak is, is geen maklike taak nie. Derde jaar silwer in die Super Reeks sal seker vir party ondersteuners nie goed genoeg wees nie. Dit blyk egter dat vir die oorgrote meerderheid waarvoor dit nie goed genoeg is nie, nie Leeus ondersteuners blyk te wees nie. Hulle is my span en ek is trots op hulle, baie trots.

Piet Pille

Oudste ek stem volkome saam met jou, die Leeus kan hul koppe hoog hou.

DHK

Naas Botha het eens gesê, wys my ‘n goeie verloorder en ek wys jou ‘n aanhoudende verloorder. Miskien moet die Leeus en hul ondersteuners dit bepeins…

Frans C

As jy drie keer probeer en dit nie maak,moet daar tog besin word oor dit wat nodig is om die knoop deur te haak.Jy kan gtaris punte gee nie. Die eerste 3 het gekom vanaf die sg. ‘Lasarus-bal’ ‘n bal wat gelyk het of dit doodgedruk kon word,reeds op die doellyn en spring toe terug in die speelveld,waar Jantjies dit optel en oorneem en dooddruk. Die 2de ‘n doellose skop wat tot ‘n teenaanval en drie lei. Die Crusaders het die Leeus se lynstaandeyf geneutraliseer,alhoewel hul by tye mi te vroeg begin dryf het,nog voor die lynstaanspringer se voete behoorlik… Lees meer »

Wesley

Dit was nou goeie rugby, beide spanne, en crusaders by ver die beste. Sal tot internasionaal kan meeding met so span, as so iets toegelaat was. Welgedaan Whitelock en sy spelers. Robertson het iets beet met daai span en hoop hul kan vasklou aan dit. Dankie vir die Lions wat hul koppe omhoog kan hou na so n wonderlike seisoen. Positiewe rugby. Die eindstryd gehaal met die meeste driee, minste geelkaarte en minste kanse doelgeskop en altyd vir die lyn gegaan. Nooit was daar bespiegel oor hul met vuilspel en snaakse taktieke nie. Watse span kan nou se van hulself… Lees meer »