Lions vlieg weer op tuisveld

Edwill van der Merwe het twee drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Die Lions het ook hul staal teen Europese teenstanders op hul tuisveld gewys toe hulle vir Cardiff met 37 – 20 in Johannesburg geklop het.

Die beleërde tuisspan – wat vroeër twee agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde teen die Bulls verloor het – het die kragmeting op die bes moontlike manier begin toe Morné van den Berg sommer binne die tweede minuut al vir ’n drie oorgeduik het.

Voeg daarby Jordan Hendrikse se flinke spel en ’n vlieënde Edwill van der Merwe; en die Lions het by tye soos die span gespeel wat destyds vir ’n rits agtereenvolgende Superrugby-eindstryde gekwalifiseer het.

Teen rustyd het die Johannesburgers reeds ’n voorsprong van 24 – 13 geniet, maar plaaslike ondersteuners weet wat die besoekers in die tweede helfte kan doen: Kyk net na Munster se terugvegpoging gister teen die Bulls op Loftus Versfeld.

Jaco Kriel op die aanval. Foto: GB Jordaan.

Maar selfs al het die Lions ’n bietjie te veel strafskoppe afgestaan, het hulle nie die voet van die versnelpedaal gehaal nie.

Hulle het goed verdedig, aggressief vir die bal op die grond baklei en ongetwyfeld hul aanvalsgeleenthede benut.

Vincent Tshituka se drie in die 80ste minuut was die laaste spyker in die Cardiff-doodskis.

Die Lions het weer op hul tuisveld gebrul.

  • Puntemakers:

Lions: Drieë: Morné van den Berg, Edwill van der Merwe (2) en Vincent Tshituka. Doelskoppe: Jordan Hendriks (4). Strafskoppe: Hendrikse (3).

Cardiff: Drieë: Aled Summerhill en James Botham. Doelskop: Jarrod Evans. Strafskoppe: Evans (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua ·

Die Leeus het goed gespeel maar die probleem lê steeds by die senter paar, Simalane moet net afleer om te bokspring sodra hy die bal kry dit mag stupit klink maar die wat hy eers bokspring en dan begin hardloop het sy oponent reeds twee tree opgemaak vir die verdediging. In die vorige wedstryd twee weke gelede was die leeus se opskiet verdedigging in hul gesigte en Saterdag het hulle weer getjommel en die opskiet verdedigging traag, die kere wat hulle dit wel reg gedoen het kon hulle voute aan die oponente se kant af dwing en dit het hulle die oorhand gegee. Die gees in die span is ook nie na wense nie en dit is steeds of die ouens vir hulself speel met n uitsondering van een of twee ouens. Met Warren as Kaptein het die ouens voor en agter uitstekend mekaar ondersteun en dit was lekker om daai gees in die span te kon sien as die nuwe leeus span dit kan reg kry gaan hulle weer die Leeus se naam oplig maar iewers kort daar steeds iets?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.