Lions voorspelbaar maklik baas teen die Rebels

Franco Mostert – een van die uitblinkers voorlangs (Foto: GB Jordaan)

Die Lions het Saterdag op ʼn drafstap met die Rebels in Melbourne klaargespeel. Met die oorwinning van 47-10 beweeg hulle steeds nader aan die eerste plek in die Afrika 2-groep.

Daar was oomblikke van minder doelgerigte spel, maar dit is verstaanbaar teen ʼn span wat Saterdag slegs sy tiende drie in tien wedstryde gedruk het en nou staan op ʼn negatiewe punteverskil van 238.

Die Lions het sewe goeie drieë gedruk, veral voorlangs oorheers en goed genoeg gevaar dat die kaptein Warren Whiteley agterna gesê het hulle is toenemend besig om momentum te bou. Daar is egter nog ʼn paar dinge wat aandag verg, het hy bygevoeg.

“Ons wil beter word, en aanhou verbeter in hierdie reeks wat jou deurentyd op jou tone hou.”

Franco Mostert, wat die seisoen ietwat flouerig volgens sy eie standaarde begin het, speel hoe later hoe kwater en was een van dié uitblinkers. Agterlangs het die vleuels Sylvan Mahuza en Courtnall Skosan heelwat hardloopkans gekry en Anthony Volmink, wat as plaasvervanger speelkans gekry het, het soos hierdie twee ook gaan druk.

Die Brumbies, Australië se beste span ondanks sy uiters middelmatige rekord van net drie oorwinnings in nege wedstryde, lê aanstaande naweek vir die Lions voor. Die Lions behoort hulle ook oortuigend te klop.

Puntemakers –

Rebels (7) 10: Drie: Tom English. Doelskop: Reece Hodge. Strafdoel: Hodge.
Lions (19) 47:  Drieë: Kwagga Smith, Ross Cronjé, Courtnall Skosan, Sylvan Mahuza, strafdrie, Anthony Volmink, Warren Whiteley. Doelskoppe: Elton Jantjies 5. (*strafdrie tel sewe punte, geen doelskop word geneem nie).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.