Lions vs Jaguares: Fokus is op die losskakels

Die twee losskakels van die Lions en die Jaguares is Saterdag in die spervuur wanneer hulle in die Superrugby-kwarteindstryd op Ellispark teen mekaar speel.

Elton Jantjies en Nicolás Sánchez se spanne maak albei baie sterk op hul vermoëns en skopwerk staat, maar die klem om hulle hok te slaan verskil effens.

Terwyl die Jaguares se losskakel Nicolás Sánchez onomwonde sê sy span is daarop uit om vir Elton Jantjies agter die Lionsskrum te ontsenu om sodoende die tuisspan se gevaarlike agterlyn lam te lê, gaan dit by die Lions eerder om die bekamping van Sanchez se vermoëns.

Die een, Sanchez, het die vermoë om met kort aangeë op die voordeellyn sy agterlyn aan die gang te kry; Jantjies speel wyer. En hy en sy agterlyn was suksesvol, soos die Lions se 77 drieë, saam met die Crusaders die meeste in die reeks, van getuig.

Ontsenu teenoor bekamp …  en in dié verband hou die vertoning van die twee pakke voorspelers ongetwyfeld die sleutel.

Die Jaguares en Lions het as spanne vanjaar die meeste keer teenstanders met bal in die hand geklop. Die Jaguares het ʼn voordeel met die beste losskrumrekord in die reeks. Maar die belangrikste faktor wat die Jaguares gevaarlik maak, is moontlik hulle geloof dat hulle buite Argentinië kan wen.

Hulle het dit vanjaar op die Australasiese toer reggekry om al vier hul wedstryde te wen, en die wisselvalligheid op toer is duidelik iets van die verlede.

Die feit dat hulle tot dusver drie keer tuis teen die Lions gewen het en drie keer op Ellispark verloor het, is nie iets wat hulle pla nie.

Maar die Lions speel tuis en het ervaring van uitspeelwedstryde. Tog, met ʼn tuiswedstryd verlede week, een Saterdag en ʼn klomp ondersteuners wat glo hulle span sal aanstaande week in die halfeindstryd tuis speel, sal die Lions moontlik nie soveel steun van langs die veld af kry as waarop hulle hoop nie.

Drie tuiswedstryde ná mekaar vat aan die toeskouers se sak en dit blyk uit die verkoop van losieplekke vir Saterdag dat die Lions se steun langs die veld dalk net so-so kan wees.

Maar of dit so sál wees, weet ʼn mens nie. Wat jy wel weet, is dat die trop van Warren Whiteley in hulself en hul patroon glo, ʼn buitengewone geloof in hul eie vermoëns het en dat die Argentyne nie sommer sal koning kraai nie.

Spanne ‒

Lions: 15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronj, 8 Warren Whiteley (kaptein), 7 Cyle Brink, 6 Albertus Smith, 5 Francois Mostert, 4 Marvin Orie, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques Van Rooyen. Bank: 16 Corn Fourie, 17 Dylan Smith, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Marnus Schoeman, 21 Dillon Smit, 22 Courtnall Skosan, 23 Howard Mnisi.

Jaguares: 15 Emiliano Boffelli, 14 Bautista Delguy, 13 Matias Orlando, 12 Jeronimo de la Fuente, 11 Matia Moroni, 10 Nicolas Sanchez, 9 Gonzalo Bertranou, 8 Javier Ortega Desio, 7 Tomans Lezana, 6 Pablo Matera (kaptein), 5 Marcos Kremer, 4 Guido Petti, 3 Nahuel Tetaz Chaparro, 2 Agustin Creevy, 1 Santiago Garcia Botta. Bank: 16 Julian Montoya, 17 Juan Pablo Zeiss, 18 Santiago Medrano, 19 Matias Alemanno, 20 Tomas Lavanini, 21 Juan Manual Leguizamon, 22 Martin Landajo, 23 Sebastian Cancelliere.
Afskop: 15.05
Skeidsregter: Jaco Peyper (SA)
Assistentskeidsregters: Marius van der Westhuizen, Egon Seconds (albei SA)
TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA)
Verwagte weer: Mooiweer, maar koud (tussen 3 en 15°C).
Voorspelling: Lions met 11 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.