Lipleklekker stryd Saterdag verwag

Lions_vs_Brumbies_GBJordaan_16Mei15_14.jpg

(Foto: GB Jordaan)

Hoewel die Ulster-rugbyspan maar al te goed besef dat vanjaar se Lions-rugbyspan nie meer welpies is nie, brand hulle om die brullende Johannesburgers op hul tuisveld te pak.

Die Ierse span en die Goudstad se rugbytrots stamp Saterdag koppe op Ellispark.

Albei spanne ry tans op die kruin van die golf ná ’n goeie begin in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Ulster het tot dusver oorwinnings oor Connacht, die Scarlets en die Ospreys behaal en net teen die magtige Leinster verloor.

Die Leeus het op hul beurt in hul eerste wedstryd teen die Bulls vasgeval, maar daarna op hul oorsese toer drie agtereenvolgende oorwinnings oor die Ospreys, Cardiff en Edinburgh behaal.

“Die standaard in die VRK-reeks is veel hoër as verlede seisoen. Dit is verblydend want sterk mededinging is wat almal wil hê,” sê Ulster-afrigter Dan McFarland.

Hy sê sy span kan nie wag om die Leeus te pak nie want vir ’n slag weet hulle wat om van hul teenstanders te verwag.

“Ons weet hoe dit is om teen hulle te speel. Dit is altyd ’n reuse- fisieke stryd en geen verrassing vir ons nie,” sê McFarland oor die vooruitsigte van wat ’n liplekkerstryd tussen twee dinamiese spanne kan wees.

“’n Span soos die Bulls het verlede seisoen aan die begin met 30 punte verloor, maar uiteindelik in die eindstryd gespeel.

“Dit is ’n duidelike bewys van hoe die spanne oor ’n tydperk verbeter en die Suid-Afrikaanse spanne gaan hierdie seisoen ’n ware toets vir ons wees,” sê McFarland, wie se span volgende naweek in Durban teen die Sharks speel.

Volgens McFarland stoot die Suid-Afrikaanse spanne oënskynlik dieselfde vyftientalle weekliks op die veld.

“Die Sharks sal aanstaande naweek straks ’n paar Bokke in sy geledere hê, maar die Leeus is elke keer grootliks dieselfde span.”

Oor sy eie span sê McFarland hy het ’n groep spelers wat honger vir sukses is.

“Die manne is honger en daar is ’n gees van afwagting onder die spelers. Hulle wil sukses smaak en is gedetermineerd om hul beste te lewer.”

Die span wat Saterdag op Ellispark as oorwinnaars van die veld stap, sal ’n reusetree gee in die rigting van ’n suksesvolle seisoen.

Net tyd sal leer of die Leeus se brul sterk genoeg is vir ’n slim Ulster-span wat wemel van talent.

Moenie SA spanne onderskat   

Ospreys-afrigter Toby Booth meen die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) is ʼn veel strawwer en meer uitdagende kompetisie as in die verlede. Deesdae is net die heel beste goed genoeg om sukses te smaak.

Die Walliese span en die Stormers meet Vrydagaand kragte in Swansea.

Die Kapenaars is onoorwonne ná drie wedstryde en spog met ’n voltal van 15 punte danksy drie bonuspunte vir drieë gedruk.

Volgens Booth is die vier Suid-Afrikaanse spanne in die VRK-reeks almal topspanne en het hul deelname tot ’n reuseverbetering in die standaard van die kompetisie gelei.

“In die verlede kon jy dalk met ’n paar dingetjies weggekom het, maar nie meer nie.

“Die Suid-Afrikaanse spanne se atletiese vermoëns, asook hul aanvallende spel het egter meegebring dat ons skielik aan hierdie aspekte moes aandag gee om te verseker dat ons nie agterraak nie. Die uitdaging nou is om by te bly by die Suid-Afrikaanse spanne,” het Booth gesê.

Oor Vrydagaand se kragmeting sê Booth hy hoop sy span kan terugbons ná die afgelope naweek se nederlaag van 47-17 teen Ulster.

Die Ospreys moes in Belfast sonder die dienste van flank Dan Lydiate en die veelsydige agterspeler Stephen Myler klaarkom nadat dié twee hulle weens klein beserings op die laaste nippertjie aan die span onttrek het.

Die verwagting is dat albei fiks sal wees om die Stormers te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.