Loffie brei Amerikaanse ‘kuierklub’ tot kampioen

Nee, sê Loffie Eloff, dié motor is tot sy spyt nie deel van sy byvoordele nie. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene (Loffie) Eloff het ʼn Amerikaanse klub wat eerder vir sy lekker kuiers bekend was, binne ʼn seisoen opgehef om sy streekkampioenskap te wen.

Die Austin Huns is pas as die wenner van die Red River-liga gekroon, en het in die proses twee keer met die verdedigende kampioen, die Austin Blacks, afgereken.

Hoe het hy dit reggekry? wou Pale Toe! by hom weet.

“Dit het begin by goeie strategiese beplanning terwyl ek nog in Suid-Afrika was.

“Daarna het die aanstelling van ʼn goeie bestuurspan gevolg: die Suid-Afrikaners Danie de Villiers en Pedrie Wanbenburg as hulpafrigters, CJ de Wet as tegniese en vaardigheidsafrigter, en die Nieu-Seelander James de Lacey as fiksheidsafrigter,” vertel hy.

Eloff sê die eerste stap by die klub self was om die kultuur in ʼn beroepsopset te verander.

“Dissipline en harde werk het die grondslag gelê. Ons moes ʼn verloormentaliteit in ʼn wen ene omskep – en daarvan ʼn gewoonte maak.”

Die Austin Huns, die Red River-liga se 2017-kampioen, (Foto: Verskaf)

Nou lê die nasionale uitspeelrondes voor. Die aanvanklikes is vir 20 en 21 Mei in Arizona bepaal, en die eindstryd vir 3 Junie in Denver, Colorado.

Maar eers, sê Loffie, gaan hy in Atlanta stap, want die Huns het eerskomende naweek ʼn loslootjie. Hy het al 820 km gestap vandat hy in Amerika is.

Die volgende naweek speel die Huns ʼn vriendskaplike wedstryd weg teen Utah in die aanloop tot die vreemde uitspeelwedstryde.

Eloff het ʼn 3-jaarkontrak met die Huns gesluit, maar hy sê hulle het reeds begin om ʼn groen kaart (permanente verblyfreg) vir hom te kry, en hulle praat nou oor die verlenging van sy kontrak, dalk as rugbydirekteur.

“Die Huns is in ʼn bouproses en sal elke seisoen groei namate die spelers vaardiger en fikser raak, en die klub meer spelers vir die Amerikaanse Arende oplewer.

“Ek glo ʼn span raak eers goed geolie en gesinkroniseer ná drie tot vyf seisoene saam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.