Loffie-hulle bo in VSA; oud-Tukkie kry driekuns

Die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene (Loffie) Eloff se Austin Huns is bo in die Amerikaanse Red River-liga; en ʼn oud-Tukkie het Saterdag ʼn driekuns in dieselfde liga behaal.

Eloff se Austin Huns het die verdedigende kampioen, die Austin Blacks, die tweede keer dié seisoen op sy baadjie gegee en is tans boaan die punteleer, nege punte voor die Blacks.

Hy kan dus nie meer verloor nie, met net sy laaste wedstryd van die seisoen teen die agteros, Houston Athletic, wat voor lê.

Nou is dit egter juis só dat die Huns se enigste nederlaag in die liga teen Houston was, boonop laasgenoemde se enigste sege vanjaar. Bygesê, die Huns het dié dag hul naasbestes gebruik omdat die eerste span in die Senior Rugbykampioenskap teen die Glendale Raptors gespeel het.

Eloff sê dit was ʼn uiters harde wedstryd teen die Blacks.

“Ons was in ʼn stadium 0-17 agter, maar die span het ʼn sterk karakter getoon, bloot by die wedstrydplan en -struktuur gehou, en die kragmeting in die 78ste minuut beklink.”

Die Suid-Afrikaner Deon Minnaar het ʼn drie gedruk om die telling tot ʼn enkele punt van die Blacks s’n te bring (29-30), en die Huns se Franse losskakel, Timothee Guillimin, het dit – ongeag ʼn gejouery en gerasery – uit die hoek verdoel.

Eloff sê die Suid-Afrikaners Minnaar en Kyle Breytenbach (wat insgelyks ʼn drie gedruk het) het in die vaste los geskitter, en die Huns het 100% van hul lynstane gewen.

Kookwater

“[Die Durbans-gebore skrumskakel] Michael Reid was weer kookwater, en het ʼn paar minute lank die bal met een arm uitgegee omdat sy skouer uit potjie gespring het.

“Daar moet melding gemaak word van ons dapper Tongaanse kaptein, Siaosi Finau, wat twee keer met ʼn enkelbesering van die veld af was, maar desondanks die wedstryd voltooi het.

“Martin Knoetze was bestendig.”

Die Huns moes sonder twee van hul Suid-Afrikaanse uitblinkers klaarkom. Die Amerikaanse toetsflank Hanco Germishuys het as gevolg van gebreekte ribbes nie gespeel nie, maar sal betyds vir die nasionale uitspeelwedstryde reg wees. Zinzan Elan-Puttick, ʼn oudleerling van Greykollege in Bloemfontein, kon nie in aanmerking kom nie omdat hy aan die begin van die seisoen vir ʼn ander klub gespeel het.

♦ In ʼn ander wedstryd in die Red River-liga het die gewese Tukkie en losskakel van Dallas Harlequins, Gerrit Engelbrecht, drie drieë vir sy span teen die Dallas Reds gedruk.

Die Reds het die wedstryd met 60-31 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.