Loffie se Huns stuur skokgolf deur VSA-topliga

Zinzan Elan-Puttick (Foto: Glendale Raptors)

Zinzan Elan-Puttick (Foto: Glendale Raptors)

Die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene (Loffie) Eloff se Austin Huns het Saterdag `n skokgolf deur Amerikaanse klubrugby gestuur deur as groentjie een van die land se bes gerekende spanne in die laaste minuut van `n rillerstryd te kelder.

Die voortou in `n wipplankstryd soos min is agt keer verwissel voordat die Huns die wedstryd in die Amerikaanse Senior Rugbykampioenskap teen Old Mission Beach Athletic Club (OMBAC) in die 84ste minuut 24-21 met `n drie van `n tikskoppie af beklink het.

OMBAC van San Diego het die Kaliforniëbeker verlede week gewen, en het die nasionale kampioenskap al sewe keer agter sy naam geskryf. Dis Eloff en die Huns se eerste probeerslag teen die grofgeskut van Amerikaanse rugby.

Die Kaliforniërs was rustyd 14-10 voor in die kragmeting op die Huns se Nixonveld in Austin.

Skouspelagtige drieë vir die Huns deur twee gewese Suid-Afrikaners, Zinzan Elan-Puttick (heelagter) en Hanco Germishuys (flank), tel tussen die hoogtepunte van die botsing.

Elan-Puttick, `n oudleerling van Greykollege in Bloemfontein, het na berig word 55 meter ver deur die teenstanders gevleg voor hy in die hoek gaan druk het.

Hy het ook met twee doelskoppe geslaag.

Nagmerrie

Germishuys, wat Griekwas in die o.13-Cravenweek verteenwoordig het, het op sy beurt 40 meter vir sy drie genael nadat hy deur vier verdedigers gebars het, en het twee met hom oor die doellyn meegesleur.

Dié 20-jarige losvoorspeler het Amerika se o.20-span verlede jaar gelei, en reeds op 19 sy buiging vir die land se senior span gemaak.

Hy het Saterdag uitgemunt en dit was  veral`n nagmerrie vir OMBAC om hom vas te vat wanneer hy met die bal op loop gesit het. Hy het lang ente veld vir sy span gewen.

Die Huns se volgende groot uitdaging is aanstaande Saterdag wanneer die klub teen die Dallas Reds, die heersende kampioen in die Red River-liga, kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russl ·

Een van die dae gaan ons die meer so maklik kan lees oor die sukses van SA gebore spelers en afrigters nie.

Dit is ‘n klap in die gesig van SA rugby om te sien hoe persone wat nie hier benodig is nie, nog sukses op ander plekke behaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.