Loffie se span in Amerikaanse eindstryd

Die Austin Huns, wat deur die Suid-Afrikaner Eugene (Loffie) Eloff afgerig word, het in ʼn merkwaardige ommekeer Sondag die eindstryd van die Eerste Liga in die Amerikaanse Nasionale Rugbykampioenskap gehaal.

Eloff en sy sterk afrigtingspan het binne ʼn enkele seisoen daarin geslaag om die klub se kuierkultuur in ʼn wenkultuur te omskep, en die Huns het Belmont Shore in die halfeindstryd in Tucson, Arizona, met 54-15 verniel.

Sy teenstander in die eindstryd in Glendale, Colorado, is New York Athletic Club (NYAC), wat die Chicago Lions met 27-5 in die halfeindronde geklop het.

Die Huns was rustyd Sondag net met 16-8 voor, maar het sake in die tweede helfte geheel en al oorheers.

Die flank Hanco Germishuys het twee van die wenspan se drieë gedruk en die plaasvervanger-agterspeler JC de Wet een.

ʼn Taai stryd word oor twee weke in Glendale voorspel, daar geeneen van die twee spanne vanjaar juis leemtes in hul mondering getoon het nie.

Die Huns se enigste nederlaag in die Red River-liga was toe sy eerste span ʼn verpligting in die nasionale senior reeks moes nakom en hy sy tweede span in die plaaslike liga gebruik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.