Loffie se span neem voortou in Amerikaanse liga

Dallas Huns, wat deur die gewese SA o.19- en Lions-afrigter Eugene (Loffie) Eloff geslyp word, het Saterdag die voortou in die Amerikaanse Red River-liga geneem.

Hy het die tweede geplaaste Dallas Reds met 40-19 verslaan.

Die Huns sluit etlike spelers met Suid-Afrikaanse wortels in, en Eloff se afrigtingspan word deur verskeie Suid-Afrikaners versterk.

Jaco Germishuys en Martin Knoetze het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Germishuys het Griekwas se o.13-Cravenweekspan gehaal, en sedertdien Amerika se o.20-span aangevoer, en die Arende in twee toetse verteenwoordig vandat hy verlede jaar op 19 sy buiging in die nasionale span gemaak het.

Knoetze, wat in Pretoria gebore is, se pa, Martin sr, is ʼn gewese Curriebekerspeler, wat toetsrugby vir ʼn Wêreldspan teen die All Blacks gespeel het.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié liga het die gewese Tukkie-flank Gerrit Engelbrecht ʼn tweekuns vir Dallas Harlequins teen Houston Athletic behaal.

Quins het met 43-29 gewen, slegs sy tweede sege vanjaar.

Michael Engelbrecht (geen verwant nie) wat tot onlangs Quins se rugbydirekteur was, bestempel Gerrit as ʼn uitmuntende flank en ʼn sleutelspeler by die Dallas-klub.

Quins-staatmakers

♦ Michael en sy ouer broer Keith, wat in Benoni grootgeword het, was oor ʼn kwarteeu heen staatmakers van Quins.

Keith het die klub as speler en administrateur (onder meer as voorsitter) gedien, en is ʼn direkteur van die VSA-rugbystigting, ʼn organisasie wat rugby op voetsoolvlak bevorder.

Michael, wat tans die Universiteit van Noord-Texas afrig en die verdedigingsafrigter van die nasionale o.20-span is, sê hy is steeds in mindere mate by Quins betrokke. Ná sy speeldae het hy die klub onder meer as voorsitter en lank as hoofafrigter gedien.

Hy is sedert 2004 by die Amerikaanse onderouderdomspanne betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.