Loffie se taaiste toets dusver wag Saterdag

Vince Jobo, regs, sak vir die Austin Blacks in die skrum. (Foto: Facebook)

Vince Jobo, regs agter, sak vir die Austin Blacks in die skrum. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse afrigter Eugene (Loffie) Eloff kom Saterdag voor sy taaiste toets dusver vanjaar in die Amerikaanse Red River-liga te staan.

Sy Austin Huns durf die Austin Blacks, die heersende Red River-kampioen en die afgelope twee jaar die naaswenner in die Amerikaanse klubkampioenskap, op eersgenoemde se tuisveld aan.

Eloff se span het vanjaar nog nie verloor nie, en hy is besig om berge te versit met `n klub wat dusver eerder vir sy gawe sosiale lewe as sy prestasies op die rugbyveld bekend was.

Die Blacks is ook nog nie geklop nie en sal gewis op Nixon Field sy reputasie as kampioen gestand wil doen.

Albei spanne het tien ligapunte ná twee seges, maar Loffie se manne het `n beter batige puntesaldo en is boaan die leer.

 Daar was drie spelers met Suid-Afrikaanse wortels in die Blacks se span wat verlede jaar 33-45 teen Mystic River van New

York in die eindstryd verloor het: Paul Benade, Ngwako Ralepelle en Paul Nieuwoudt.

Alan Sharpley, die Blacks se vooritter het uit Austin, Texas, aan Pale Toe! gesê al drie het die klub sedertdien verlaat.

Benade het na Seattle verhuis, Ralepelle het na Suid-Afrika teruggekeer, en Niewoudt is met langverlof, maar word binnekort terug verwag.

Nuweling

`n Nuweling uit Suid-Afrika, Vince Jobo, het onlangs by die klub aangesluit en draf Saterdag op agsteman teen die Huns uit.
Jobo, wat op Krugersdorp gebore is en aan King Edward VII in Johannesburg gematrikuleer het, het die Westelike Provinsie, die Vrystaatse Cheetahs, die Valke en die OP Kings verteenwoordig.

Benade is van Hermanus en het in Suid-Afrika grootgeword voor hy Amerika toe is om aan die Arkansas-staatsuniversiteit te studeer en rugby te speel.

Sharpley sê nadat hy (Benade) gegradueer het, het hy en sy vrou na Houston verhuis waar hy in 2015 vir `n tweedeligaklub gespeel het. Verlede jaar het hy die 160 km tussen Houston en Austin gependel om die Blacks as speelkantflank te verteenwoordig.

“Hy het in die eindstryd van die bank af opgegaan, en was waarskynlik Austin se beste speler in die kragmeting.”

“Rolle” Ralepelle, `n gewese o.19-speler van die Blou Bulle en `n broer van die Springbok Chiliboy, het in Januarie verlede jaar na Austin verhuis. Hy was die grootste deel van die seisoen die opdrafagsteman, maar het sy skouer vroeg in die eindstryd beseer.

Van Texas se beste

Sharpley sê Niewoudt se pa, David, was `n gebore Suid-Afrikaner wat senter gespeel en in Houston gewoon het.

“Hy was in die vroeë jare tagtig tussen die beste spelers in Texas. Hy is sowat tien jaar gelede oorlede, en Paul het verlede jaar na Austin verhuis om vir die Blacks te speel.”

 Eloff se span het sy jongste wedstryd 24-18 teen die Dallas Reds gewen.

Hanco Germishuys, die gewese Griekwa-o.13-Cravenweekspeler wat nou toetsrugby vir Amerika speel, het een van die span se drieë gedruk.

Martin Knoetze, die seun en genant van die Suid-Afrikaanse Wêreldspan-toetsspeler Martin Knoetze, het met `n doelskop geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.