Loftus (en Blou Bulle) behoort Morné te vereer

Morné du Plessis (Foto: Twitter)

Morné du Plessis (Foto: Twitter)

Wanneer die Bokke die Franse aanstaande jaar op 10 Junie op Loftus Versfeld pak, kan daar gerus hulde aan Morné du Plessis gebring word.

Du Plessis was ongetwyfeld een van die beste Springbokkapteins in die geskiedenis. Hy het in 1971 sy buiging vir die Bokke op hul toer in Australië gemaak en in 22 toetse gespeel, met `n wenpersenetasie van 81%.

In sy 13 toetse as Bok-kaptein was hy net twee keer aan die verloorkant, in reekse  wat die Bokke teen die All Blacks (1976) en Britse Leeus (1980) gewen het. Hy was `n talentvolle, slim rugbyspeler, uitstekende kaptein, diplomaties en passievol. Hy was ook die Bokke se spanbestuurder in 1995 toe hulle die Wêreldbeker gewen het. Hy was die weerligafleier en het baie groot druk van die afrigter, Kitch Christie, gehaal.

Du Plessis, wie se ma Pat Smethurst Suid-Afrika se hokkiekaptein was en sy pa, Felix, die Bokke in 1949 teen die All Blacks aangevoer het, was op Grey-kollege in Bloemfontein `n beter kieket- as  `n rugbyspeler. Hy het vir Grey se eerstespan gespeel, maar moes later van losskakel af senter toe skuif om plek te maak vir Dawie Snyman. Du Plessis kon nie die Vrystaatse Cravenweekspan haal nie, maar is wel as snelbouler vir die nasionale o.19-krieketspan gekies. Sy krieketloopbaan (op Stellenbosch waar hy gestudeer het) en vir die Westelike Provinsie het tot stilstand gekom toe Barry Richards hom in `n Curriebekerwedstryd verrinneweer het.

Du Plessis was nie altyd gewild op Loftus nie. Onthou u nog hoe hy in 1977 uitgejou is is toe hy Naas Botha in `n Curriebeker-wedstryd te pletter geloop het? Hy het my jare daarna vertel hoe pynlik dit was, maar dat dat hy die ondersteuners se opgekropte emosies verstaan het.

Spelskeppers én spelbrekers

Hy het ook in 1974 op Loftus deurgeloop toe hy flank in die tweede toetse teen die Leeus gespeel het. Die Bok-keurders het Dugald MacDonald as agsteman gekies (Du Plessis was agtsteman in die eerste toets) en die Leeus-skrumskakel Gareth Edwards het kat en muis met die Bokke gespeel. Dis waar Du Plessis die onvleiende bynaam van “Gironkie” gekry het [`n kombinasie tussen `n  “giraffe” (kameelperd) en `n donkie].

Du Plessis het sy laaste toets op 8 November 1980 teen die Franse op Loftus gespeel. Die span het geweet dat hy sou uitree en nie die Bokke in 1981 deur Nieu-Seeland sou lei nie.

Die Bokke het die Franse, wat dié jaar onoorwonne was, op `n snikhete dag 37-17 geklop en vyf puik drieë gedruk. Ek beskou die Bokspanne van 1980 en 1981 as van die beste in die geskiedenis, want daar was spelskeppers én spelbrekers in hulle.

Ironies genoeg is Du Plessis `n uitvoerende direkteur van die Marc-maatskappy (voorheen Sail) wat `n belang van 50% in die Blou Bulle Rugbyunie het. As die Bokke die Franse op 10 Junie pak, sal Du Plessis dus na sy weiveld terugkeer.

Hopelik sal hy dan gewaardeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.