Lojaliteit in rugby? Gaan vra vir CJ Stander

CJ Stander. (Foto: Breaking News)

As jy lojaliteit in rugby wil hê, gaan koop vir jou ʼn hond.

Dis die raad wat CJ Stander, oud-vuurvreterflank van die Blou Bulle, gekry  het voordat hy hom as 22-jarige jongeling in 2012 in die koue Limerick in Ierland gevestig het waar hy nou een van Munster en Ierland se grootste bondgenote geword het. Altesaam 106 wedstryde vir Munster, 18 toetse vir Ierland en een toets vir die Britse en Ierse Leeus in Nieu-Seeland…

Hy is nou 27 en kan nog een van die heel grotes in Ierse rugby, en wêreldrugby, word.

Ai, hoe kon die kortsigtige afrigters en keurders in Suid-Afrika sy vaardighede dan so misgekyk het? ʼn Lid van die SA Skolespan in 2008 (hy was myns insiens die beste skoleflank sedert Wahl Bartmann diep spore begin trap het), tien wedstryde vir die Suid-Afrikaanse o.20-span tussen 2009 en 2010, 52 wedstryde vir die Blou Bulle, 16 Superwedstryde vir die Bulls, lui sy rekord in Suid-Afrika.

Maar nee, hy is te klein, het een van sy afrigters gesê en toe verhuis hy na Ierland.

Stander het in ʼn openhartige onderhoud in die Irish Independent gesê hoe hy sy gesin in Suid-Afrika mis; sy pa, Jannie, wat nou alleen die boerdery buite George behartig, sy ma, en die klein dingetjies in die lewe, soos begrafnisse, sy niggies en neefs, sy vriende se troues.

Maar hy het baie gou geleer wat lojaliteit beteken toe hy Ierland sy tuiste gemaak het en dis hoekom hy nou terugploeg.

Sy kinderdroom was om eendag in ʼn Wêreldbekertoernooi te speel en as hy nie ʼn besering opdoen nie, sal hy dit in 2019 in Japan verwesenlik.

ʼn Paar weke gelede is Stander se naam gekoppel aan ʼn skuif na die skatryk Franse klub Montpellier, waar hy sowat R12,7 miljoen ʼn jaar kon verdien het. Maar, ondanks mediabespiegelinge, het hy nooit met enige klub onderhandel nie, hy wou nooit skuif nie, hy wil net terugploeg en dankie sê vir Munster en die Ierse ondersteuners wat hom jare lank omarm het.

Wat sy besluit nog makliker gemaak het, was die aankoms van Johann van Graan as die nuwe hoofafrigter. Net soos Stander, glo Van Graan ook aan waardes en lojaliteit. Wanneer hulle ʼn vertrek binnestap, word almal met ʼn handdruk gegroet. Dit kweek spangees, samehorigheid, kameraadskap, lojaliteit.

♦ Wanneer dit in Suid-Afrika by lojaliteit kom, staan die oud-Vrystaatse senter Helgard Müller voor in die ry. Hy het sedert 1983, toe hy die eerste keer vir die Vrystaat gespeel het, die bond in 142 Curriebekerwedstryde verteenwoordig. Hy het 245 keer vir die Vrystaat en ook krieket vir die Vrystaat gespeel.

Hy het net een keer in sy loopbaan geskuif, toe hy vir Oostelikes in Pretoria gespeel het. Maar dit was van baie korte duur en hy is terug Vrystaat toe – daar waar sy wortels begrawe was.

Müller het in 1986 op “omstrede” wyse Springbok geword toe hy as plaasvervanger teen die Nieu-Seelandse Kavaliers opgestuur is nadat sy groot pêl, Jaco Reinach, kort voor die einde seergekry het.

Dok Danie Craven was ontsteld toe hy daarvan te hore gekom het en het die aand op die onthaal toe hy die Springbokpet aan Muller oorhandig het, dit vies op sy kop geplak.

In 1989 het Müller darem weer vir die Bokke teen ʼn Wêreldspan gespeel, en dié aand het hy en Dok Craven net lekker gelag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ja so tipies! ·

Want Suid Afrika se keurders sit met hul oe in hul se …..le ….

Eish ·

Tereg n skaars kommoditeit in die helhool. Onthou ook Andre Venter wat sy hele loopbaan n Cheetah gebly het.

Niklaas ·

C J is ‘n klipharde speler en niemand kan hom blameer vir die skuif na Ierland. Bokspan sou kon doen met so ‘n agsteman / flank . Bokke gaan dalks beter vaar in 2018 as die vorige 2 jare. Hul kan nie juis vrotter presteer nie. Dit kan net beter , hopelik.

lollie ·

Die skrywer het duidelik nie vir Ruben Kruger op skolevlak dopgehou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.