Lojaliteit kan gekoop word in rugby

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

ʼn Hele paar jaar gelede was daar altyd vrae gevra en is ʼn rugbyspeler se lojaliteit bevraagteken wanneer hy van bonde verander het.

Maar hoe het dinge nie verander nie, want dit is nou die uitsondering op die reël wanneer ʼn speler nie van bonde verander nie.

Dis sy werk; hy kry ʼn beter aanbod, hy is dalk nie meer deel van die planne nie wanneer ʼn span van afrigter verander (soos dit nou die geval met Jake White by die Bulls is), hy kan sy toekoms verseker, sy pensioen aanvul deur oorsee, veral in Japan of Frankryk, te speel.

ʼn Mens kon die afgelope paar maande nie meer tred hou nie, want Springbokke soos Malcolm Marx, Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen, RG Snyman, Damian de Allende, Wilco Louw, Eben Etzebeth en Handré Pollard het, of wou geskuif het.

Dit is nie net op senior vlak nie, want die Franse maak jag op ons beste skolespelers , en in Skotland, Ierland en Frankryk is daar ʼn hele paar Suid-Afrikaners soos Duhan van der Merwe, Oli Kebble en Jacques du Plessis wat dalk binnekort toetsrugby vir hul aangenome lande kan speel.

Ja, daar is spelers soos Frik du Preez, Piet Uys, Mof Myburg, Hansie Brewis, Thys Lourens, Naas Botha (al het hy al om die ander naweek tussen Suid-Afrika en Italië rondgerits om vir Rovigo te speel), Burger Geldenhuys, Louis Moolman, Francois Pienaar, Kevin de Klerk, Syd Nomis en Corrie Pypers wat tuis gebly het en enduit vir net een bond gespeel het.

ʼn Mens dink dadelik ook aan Helgard Muller, wat 245 keer vir die Vrystaat gespeel het (142 Curriebekerwedstryde) en slegs vir ʼn naweek of twee sy geluk in Pretoria beproef het voordat hy weer vort is Bloemfontein toe.

Ek onthou nog hoe groot nuus dit destyds was toe Transvaal vir Moaner van Heerden “gekoop” het om vir die Rooibontes te speel.

Van Heerden en De Klerk moes as slotpaar die grondslag gelê het, maar in daardie jare is daar mos gesê: jy kan nie lojaliteit koop nie.

Vroeg in die negentigerjare, toe Harry Viljoen Transvaal afgerig het en Kitch Christie van Pretoria na Johannesburg gelok is om die leisels by hom te neem, het ʼn hele paar Bulle soos Uli Schmidt, Heinrich Rodgers, Johan Roux, Gavin Johnson, Theo van Rensburg, Hannes Strydom en Chris en Charles Rossouw ook gevolg.

Die skuiwe was suksesvol, want Transvaal was die superspan van 1993 en 1994, en dié wat aspris is, beweer dat hulle ook die Wêreldbeker in 1995 gewen het.

Nou is die vraag, wat sou gebeur het as hulle almal vir Noord-Transvaal bly speel het?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

‘n Mens kan net hoop dat rugby plaaslik nie dieselfde pad as sokker in Europese lande loop nie.
Die Engelse sokker ligas is deurtrek van oorseese spelers wat feitlik deur die bank verkies om vir hul tuislande te speel as daar ‘n wêreldbeker op die spel is.Die gevolg is dat die arme Engeland laas in 1966 ‘n wêreldsokkerbeker kon wen. Suid Afrika wen darem elke 12de jaar ‘n rugbywêreldbeker.Engeland laas in 2003 al het hul sterk plaaslike spanne.

Die probleem is dus duidelik sterk plaaslike klub en provinsiale spanne beteken nie noodwendig sukses op internasionale gebied nie.Die enigste uitsondering in rugby is NZ wat rugby in die Suidelike halfrond oorheers op provinsiale en internasionale tot so’n mate dat dit vervelend word.

Lê hul sukses nie daarin dat hul superrugbyspanne deurgaans ‘n sterk kern spelers behou en so soos die Crusaders talentvolle jong spelers kan huisves en ontwikkel, teenoor Suid Afrika se beleid van koop ‘n span en hoop vir die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.