Jonah Lomu is een van die vernaamste figure wat wêreldrugby nóg opgelewer het. Wie sal ooit sy stormlopie sommer bó-oor Mike Catt in die 1995 Wêreldbeker-rugbytoernooi vergeet?
Maar ten spyte van vele hoogtepunte in die All Blacks-trui – soos die Australië-wedstryd in 2000 waar hy die wendrie in die doodsnikke gedruk het, sowel as verskeie ander tweestryde in die internasionale arena – skryf die New Zealand Herald dat hy ook die 1995-eindstryd teen die Bokke as een van sy gunstelinge uitgesonder het.
Dié Nieu-Seelandse koerant het 11 van die legendariese Kiwi se grootste oomblikke in die All Blacks-trui geïdentifiseer deur stukke uit Lomu se outobiografie (Jonah: My Story) aan te haal.
Op 24 Junie 1995 was Francois Pienaar die eerste Springbokkaptein om die Webb-Ellis-trofee omhoog te hou, nadat die Bokke die All Blacks met net drie punte geklop het. Die gevaarlike Lomu is deur die Bok-verdediging geneutraliseer en Joel Stransky se skopvoet het gesorg dat die Springbokke met louere weggestap het.
“Die Bokke het die uitklophou in die tweede gedeelte van bykomende tyd geplant toe Joel Stransky sy tweede skepskop van die wedstryd deur die pale gejaag het. Ons kon net nie daarop antwoord nie – 15-12,” het Lomu geskryf.
“All Blacks huil nie, maar op daardie dag het die All Blacks gehuil.”
Daar is wyd en syd in die media bespiegel dat die Nieu-Seelanders vooraf voedselvergiftiging opgedoen het en dat dit ’n bydraende faktor tot hul nederlaag op dié dag was.
“Gegewe die omstandighede waarin ons onsself bevind het, het ek gedink dat ons briljant in die wedstryd geveg het. Ons gewone skerpheid ten opsigte van ons spel was definitief afwesig, maar op die ou einde het 15 spelers die swart trui oor hul koppe getrek en ons het verloor. Sou ons gewen het as almal 100% fiks was? Wie weet?”
Tog het Lomu geen verskonings vir hul nederlaag gesoek nie.
“Ek het ons nederlaag aanvaar en ʼn mens kan nie deur die lewe gaan deur aanhoudend verskonings te maak nie.”
“Om in die All Blacks-trui te wen is die lekkerste ding in die lewe. Die All Blacks is goeie wenners, maar soms, en al maak dit hóé seer, moet die All Blacks ook goeie verloorders wees.”
Ander hoogtepunte:
- Sy toetsdebuut teen Frankryk in 1994.
- Die openingswedstryd van die 1995 Wêreldbeker teen Ierland.
- Die halfeindstryd in die einste toernooi teen Engeland.
- Sewesgoud by die Statebondspele in 1998; dieselfde jaar wat Shaun Pollock se krieketspan ook die goue medalje in Kuala Lumpur gewen het.
- Sy terugkeerwedstryd ná sy nieroorplanting in 2005.
- Lomu is in 2015 aan ’n hartaanval dood. Hy het vir jare aan ’n niersiekte gely.
Voorwaar ‘n All Black legende!! Ons kan hom eenvoudig net nie vergeet nie. Prominent tydens rugby gesprekke so ook oor ons eie Bokke!!
Groete
In 1980 het die AllBlacks n toets teen Australia verloor, en ook gekla dat hulle vergiftig is.
Min mense weet dat Joel na daardie skepskop nog met n strafskop misluk het. Die skepskop was 7minute voor die einde en die strafskop 3minute voor die einde.