Londense sewes: Uitkloprondes wink vir Blitsbokke

(Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Dit het broekskeur gegaan, maar die Blitsbokke het Saterdagmiddag op Twickenham vir Sondag se uitkloprondes van Wêreldrugby se sewes (Londense toernooi) gekwalifiseer nadat hulle Ierland met 19-12 geklop het.

Die Blitsbokke was rustyd met 7-0 voor en nadat hulle Saterdagoggend hul bepalings met ʼn sege van 26-19 oor Argentinië ingelui het, is die agterdeur nou oop om eerste in Groep B te eindig.

Die Blitsbokke het nog net ʼn kragmeting met Kenia (Saterdagmiddag om 17:09) oor, wat reeds twee keer verloor en uit die wedloop is.

Die Blitsbokke, wat verlede week die eerste keer nog teen Ierland verloor het, moes baie diep delf vir ’n oorwinning, hoewel ʼn beslissing van die TV-skeidsregter dat Muller du Plessis nie beheer oor die bal gehad het toe hy oor die doellyn geskuif het nie, bevraagteken kon word.

Nietemin het die Blitsbokke drie drieë gedruk om deur te skraap en die spinnerakke van hul swak vertonings van die afgelope drie weke af te skud.

* Punte: Suid-Afrika 19 (7): Drieë: Zain Davids, Mfundo Ndhlovu, Angelo Davids. Doelskoppe: Ronald Brown (2).

Ierland 12 (0): Drieë: Jordan Conroy, Terry Kennedy. Doelskop: Billy Dardis.

* Ander uitslae: Nieu-Seeland 24, Australië 19; Frankryk 19, Kanada 14; Suid-Afrika 26, Argentinië 19; Ierland 17, Kenia 14; Spanje 26, VSA 10; Fidji 38, Wallis 17; Engeland 19, Skotland 17; Samoa 33, Japan 15; Australië 26, Kanada 5; Nieu-Seeland 36, Frankryk 7; Argentinië 26, Kenia 0; VSA 33, Wallis 12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.