Londense sewestoernooi: Brittanje stof Blitsbokke uit

Die Blitsbokke speel die naweek teen Groot-Brittanje, die VSA en Nieu-Seeland in Londen. (Foto: Twitter/Blitsbokke)

Die Blitsbokke was Saterdag op Twickenham in Londen met die intrapslag met die rug teen die muur in die Londense sewestoernooi, die laaste toernooi in dié seisoen se reeks.

Die Blitsbokke, wat ʼn heel buitekans het om nog outomaties vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Frankryk te kwalifiseer, is met 19-15 deur Brittanje te klop.

Die Blitsbokke is saam met Nieu-Seeland, wat reeds as die seisoen se kampioen gekroon is, Brittanje en die VSA in Groep A geloot.

As die Blitsbokke nie die eindstryd haal nie, is hul kanse straks daarmee heen en boonop moet Australië en Samoa ook nie verder as die Blitsbokke vorder nie. Boonop het albei van hulle reeds hul eerste wedstryde gewen.

Die Blitsbokke was vroeg in die eerste helfte met 0-12 teen Brittanje agter nadat Femi Sofolarin en Api Bavadra vir die tuisspan gaan druk het.

Kort daarna het Siviwe Soyizwapi sy 150ste drie vir die Blitsbokke gedruk. Maar ʼn derde drie deur Sofolarin het die Blitsbokke gekelder, hoewel Ryan Oosthuizen darem in die hoekie oor is.

Die Blitsbokke het albei doelskoppe verbrou en ook twee keer die bal van inskoppe af direk oor die kantlyn geskop.

Dit was juis sulke foute wat die Blitsbokke duur gekos het.

Die Blitsbokke speel om 15:15 teen die VSA en Saterdagaand teen Nieu-Seeland.

Puntemakers:

Brittanje 19 (19): Drieë: Femi Sofolarin (2), Api Bavadra. Doelskoppe: Kaleem Barreto (2).

Suid-Afrika 15 (5): Drieë: Siviwe Soyizwapi, Ryan Oosthuizen, Shaun Williams.

Ander uitslae:

Australië 33, Spanje 12;

Samoa 28, Frankryk 21;

Fidji 33, Ierland 12;

Argentinië 43, Japan 12;

Brittanje 19 , Suid-Afrika 15 ;

Nieu-Seeland 35, VSA 17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.