Los die skolebekers in die kas, en hervorm Suid-Afrika se rugbystelsel ingrypend van heel onder tot heel bo, glo een van die land se suksesvolste o.19-afrigters.
Eugene (Loffie) Eloff, wat tans in Amerika afrig, het in `n openhartige onderhoud met Pale Toe! gesê die hele Suid-Afrikaanse stelsel is syns insiens verkeerd en daarom toon dit soms `n gebrek aan vaardighede op senior vlak.
Hy glo Suid-Afrika beskik oor die regte mense – bestuurslui sowel as afrigters – om rugby reg te ruk, maar hulle word nie benut nie.
Eloff het SA o.19 afgerig toe dié span twee keer in drie jaar (2003 en 2005) Nieu-Seeland geklop het om die o.19-Wêreldbeker te wen. Hy was `n hulpafrigter toe Suid-Afrika in 2002 die o.21-Wêreldbeker gewen het, en is dus in `n uitstekende posisie om oor die produk van skolerugby te oordeel.
Hy het eweneens die Lions in Superrugby en die Goue Leeus in die Curriebekerreeks afgerig.
Eloff is daarteen gekant dat skolespelers “met `n lepel” afgerig word om onder opdrag en volgens `n bepaalde wedstrydplan te speel.
“Ons moet op laer skool die kinders leer om die spel te geniet, en benewens `n hartstog of liefde daarvoor ook `n sin vir veiligheid aankweek.
“Voorts moet hulle op dié vlak hand- en voetvaardighede ontwikkel en die vermoë vorm om spasie te sien en daarin te kan speel, veel eerder as om aan aspekte soos losgemale en patroon aandag te gee.”
Hy glo daar kan dán op hoër skool na kondisionering, groter spesialisering in posisies, en wedstrydplanne gekyk word, veral ná 15-16 wanneer die kind omtrent klaar ontwikkel het en die vaardighede ingewortel is.
Wengedagte
Wat die beklemtoning van die wengedagte betref, sê Eloff dis `n belangrike deel van sport wat nie bloot weggepraat kan word nie.
“`n Mens speel om te wen … dit is moeilik om vir `n rugbyspeler wat ambisie en potensiaal het te sê, gaan draf op die veld en gee uitdrukking aan jouself, maak nie saak van wen of verloor nie. Dis absurd. `n Mens speel om te wen, maar nie tot elke prys nie.
“Jy leer meer uit verloor uit as wen. Dis `n bitter pil, maar dis die waarheid.
“Ek sê altyd vir my spanne: ‘Fokus op uitvoering, akkuraatheid en genot, en die oorwinning sal kom as ons `n sterk poging aanwend en die sege verdien.’
‘Los bekers in kas’
“Weereens dink ek ons moenie op laer skool mededingend speel nie. Dit plaas te veel druk op die kinders, en laat meer letsels as wat dit voordele inhou.
“Los die bekers ook maar in die kas. Aan die einde van `n seisoen sal die spelers en afrigters weet of hulle suksesvol was of nie.
“As `n mens op `n hoë beroepsvlak speel, is dit `n ander saak. Jy speel om te wen en vir daardie trofee, maar teen daardie tyd is spelers daarvoor gekondisioneer.”
Eloff beskou dit geensins as `n probleem dat `n skool sport as `n instument vir bemarking gebruik nie, maar balans moet nie uit die oog verloor word nie.
‘Eie ergste vyand’
“Ons leef tog in `n beroeps- en sake-era, en soos almal weet, gee die regering bitter min geld vir opvoedingsinstansies. Ek dink dit is wonderlik dat skole en universiteite hul inisiatief gebruik om ons kinders te help. Alles moet egter in balans wees en dieselfde mate van energie moet in alle sportsoorte en kultuur ingepomp word,” het Eloff gesê.
Gevra of hy meen die tekortkominge op skolevlak kan `n nadelige effek op Super- en toetsrugby hê, antwoord hy dat hy meen “ons is tans self ons ergste vyand wat rugby in Suid-Afrika betref”.
“Daar is `n gebrek aan leiding en visie van die SA Rugbyunie (Saru) af, en [die rugbybase] laat hulle lei deur politici, en persoonlike posisies en agendas. Ek gaan nie daaroor uitwei nie.
“As mens nie staan vir iets waarin jy glo nie, moet jy aanbeweeg, maar jy kan nie soos `n vis in `n stroom bly saamswem as die stroom warm word nie.
Vernuwing ontbreek
“Ons moet transformeer ja, maar op skole- en lae vlak, nie in internasionale mededinging nie. Ek weet die bonde wend `n grootse poging aan om borge te bekom om Superrugby en rugby in die algemeen te bekostig. Dis `n duur proses. Rugby kort egter leiding en rigtinggewing met visie.”
Eloff sê [Saru] kan elke jaar indabas [en dergelike saamtrekke] hou, maar dit spreek die simptome aan en nie die probleem nie.
“Ons kort vernuwing in Saru. Spelers en afrigters kom en gaan, maar die manne in die glaskasteel is steeds in hul poste – en dis onder hul bestuur dat SA rugby die laagtepunt bereik het waar dit nou verkeer.
“Kry topsakemanne aan die stuur, en die beste afrigters. Ons hét hulle in Suid-Afrika en hoef nie te gaan soek nie. Ontwikkel hulle net.”
Dit is waar, laerskole speel op meneer se opdragte wat langs die kantlyn staan en bevele bulder en behoede die speler wat nie doen wat meneer bevel nie. As ek die springbok afrigter is sal ek n indaba hou waar al die laerskole se hoofde met hul afrigters is en beveel hulle dat dit is die pad vorentoe, veral die laer ouderdom spanne. Die kinders het geen visie van die spel nie want hul speel soos robotte, dit is waarom ons so sukkel in die senior spanne wat speel en die spel nie kan lees nie.
Hierdie is al jare ons rugby se probleem. Laerskool kinders word nie meer bal vaardighede geleer nie, maar wedstryd planne. So inisiatief ontbreek. Laat laerskool spanne speel om dit te geniet.