Loslootjie vir die Goue Leeus

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die Goue Leeus, houer van die Curriebeker, se eerste wedstryd in vanjaar se reeks  is uitgestel weens die afwesigheid van hul 25 voorste spelers wat vir die Super-eindstryd in Nieu-Seeland is.

Die Leeus sal die naweek ʼn loslootjie hê wanneer die Curriebekerreeks se eerste ronde Vrydag en Saterdag gespeel word. Aanvanklik sou die Leeus Saterdag teen Griekwas in Kimberley gespeel het.

Daar sal Dinsdag ook uitsluitsel wees daaroor of die OP Kings na die Eerste Liga afgeskuif sal word. Die OP het uit eie geledere te kenne gegee het dat hulle na vanjaar se geld-fiasko nie finansieel of wat spelerskrag betref waardige teenstand in die Premierliga sal kan bied nie.

Die aansoek dat die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) gelikwideer word, sal na verwagting Donderdag bekragtig word.

♦  Die voorstel dat die OP Kings afgeskuif word en dat die Luiperds hul plek inneem, is na die unies gesirkuleer wat voor Dinsdagaand hul besluit moet uitoefen. Dit moet dan deur die uitvoerende bestuur bekragtig word.

Die Luiperds het vierde geëindig in die opstellende reeks vir die Curriebeker waar die voorste drie nie-franchise unies sou kwalifiseer om saam met Superrugby se ses unies mee te ding.

Indien die Kings wegval, sal daar waarskynlik op die vierde beste nie-franchise unie teruggeval moet word: en dit is die Luiperds.

Indien hulle wel toegelaat sou word, sal die Luiperds Vrydagmiddag in Kimberley teen Griekwas speel. Hulle sal dan die daaropvolgende naweek in Potchefstroom teen die Boland te staan kom.

Geld kan egter in  die weg staan van die Luiperds se bevordering. Die unie dring glo na verneem word daarop aan om ook soos die ander unies R2 miljoen vir hul deelname aan die Premieliga te ontvang. Dit lyk egter of die uitvoerende bestuur daarteen mag skop.

Dit sal beteken dat die Premierliga dan moontlik as ʼn reeks met net agt spanne voortgesit kan word.

Maar dit is alles bespiegelinge. Dinsdagaand sal ʼn mens weet.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Darem bly die rugbyraad het besef dat die Kings se verskansing in die reeks ‘n dom besluit was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.