Losskakel met een oog, 2 uit SA dalk teen Bokke

Ian McKinley. (Foto: Facebook)

ʼn Losskakel wat die gebruik van sy een oog verloor het, en twee spelers met Suid-Afrikaanse wortels is ingesluit in die Italiaanse 34-tal wat Maandag in Parma saamtrek met die oog op onder meer die November-toets teen die Springbokke.

Suid-Afrika speel op 25 November in Padua teen Italië.

Opvallend afwesig is die Suid-Afrikaners Quintin Geldenhuys (67 toetse, onder meer as kaptein) en Dries van Schalkwyk (15 toetse).

Geldenhuys het vroeër vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer om op hul familieplaas te gaan boer, nadat hy einde verlede jaar uit internasionale rugby getree het.

Van Schalkwyk het enkele maande gelede ʼn kontrak van twee jaar geteken om vir die Kings in die Pro14-reeks te speel.

Zebre, die Italiaanse klub waarvoor hy gespeel het, het in geldelike moeilikheid geraak en die bestuur daarvan is deur die Italiaanse Rugbyfederasie oorgeneem – dit klink baie soos die Kings se verhaal.

Terug by die spelers wat wel in die span ingesluit is: Braam Steyn, ʼn gewese SA o.20-losvoorspeler wat al in 14 toetse vir die Italianers gespeel het, is wel gekies, sowel as die stut Dario Chistolini (18 toetse), wat in Kempton Park gebore is.

Die veteraan-losvoorspeler Sergio Parisse (126 toetse) voer weer die span aan.

Tussen die nuwelinge is ʼn gewese losskakel van Ierland se o.20-span, Ian McKinley, wat sy een oog verloor het nadat hy sewe jaar gelede tydens ʼn rugbywedstryd in die gesig getrap is.

Hy is in 2013 Italië toe om te gaan afrig, maar nadat ʼn spesiale beskermende bril vir hom ontwerp is, het hy in een van die laer streekligas begin speel.

McKinley het dermate herstel dat hy later vir Viadana in die Italiaanse Super 10-reeks gespeel het, en tans Benetton Treviso in die Pro14-reeks verteenwoordig.

♦ Suid-Afrikaners sal hulle ook die klipsteenharde Springbokke Martin Pelser (flank) en Johan de Bruyn (slot) herinner, wat met die gebruik van slegs een oog toetsrugby gespeel het.

De Bruyn het net in een toets gespeel, maar was die middelpunt van belangstelling toe 1974 se derde toets teen die Britse Leeus in Port Elizabeth tot stilstand gekom het om sy glasoog in die modder te soek, nadat ʼn Leeu dit uit sy oogkas geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lekker-lag-ek-nou ·

Soos die eerste paragraaf se: “met die oog op…” bwahaha. Dit is ‘n ooglopende misbruik in die konteks. Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.