Losskakel uit SA beduiwel RWB-droom

Vincent Hart – 18 punte. (Foto: Twitter)

Die Swarte Duiwels van België se Suid-Afrikaans-gebore losskakel het Sondag die Spaanse Leeus se droom om aanstaande jaar Wêreldbekerrugby te speel ietwat beduiwel.

Die verkeerde stert is geknoop in die skok van die seisoen toe die Duiwels en die Leeus mekaar Saterdag in Brussel, België, in die reeks om die Rugby Europa-beker (REB) die stryd aangesê het.

Allerweë is verwag dat die Spanjaarde, wat tot dusver ʼn puik seisoen beleef het, die sukkelende Belge maklik sou klop.

Die Swarte Duiwels het egter ander planne gehad, en die besoekers met 18-10 ondergesit (rustyd 12-0).

Die Duiwels se 24-jarige losskakel, Vincent Hart, wat in Kaapstad gebore is, het al sy span se punte met ses strafdoele behaal.

Dit veroorsaak dat die Spanjaarde nie regstreeks vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in aanmerking kom nie, en hulle lê nou, met verwysing na die baie strafskoppe wat aan die Belge toegeken is, die nederlaag aan die voete van die Roemeense skeidsregter.

Roemenië het in die proses, ondanks sy nederlaag van 16-25 (rustyd 6-10) teen Georgië in Tbilisi, die Europese RWB-aanspraakstryd gewen.

Hy sal op die koop toe in die openingswedstryd teen die gasheer, Japan, speel.

Georgië, wat in 2015 reeds sy plek die RWB-toernooi bespreek het, het met dié sege seker gemaak hy herwin die REB nadat hy dit verlede jaar op punteverskil aan Roemenië afgestaan het. Hy (Georgië) het dit die vorige ses jaar op die ry af gewen.

Spanje, wat in 1999 ook aan die wêreldtoernooi deelgeneem het, se kans om Japan toe te gaan, is darem nie neusie verby nie.

Daar wag ʼn uitspeelwedstryd teen Portugal op hom, en as hy dié wen, speel hy tuis en weg teen Samoa uit. Die verloorder kry in November nóg ʼn kans in ʼn heruitdun teen Kanada en twee ander spanne wat nog bepaal moet word.

Vir die Belge beteken dit nog ʼn jaar in die REB nadat hulle verlede jaar die promosie-relegasiestryd teen Portugal gewen het, en met ʼn tweede laaste plek dit vanjaar vryspring.

♦ In Sondag se ander REB-botsing in Keulen, Duitsland, het Rusland die tuisspan met 57-3 (rustyd 33-3) afgeransel.

Dit sluit die hartseerverhaal van Duitsland se uitvaart as aanspraakmaker vir deelname aan die komende RWB-toernooi af.

Einde die vorige seisoen was Duitsland, met die Suid-Afrikaanse afrigters Kobus Potgieter en Pieter Jordaan aan die stuur van ʼn toetsgroep wat ʼn dosyn of wat spelers met Suid-Afrikaanse bande ingesluit het, ʼn gunsteling om Japan toe te gaan.

Hy het onder meer opspraak verwek deur Roemenië in die aanspraakstryd te klop.

Die Duitse Rugbyunie (DRV) het egter met sy hoofborg haaks geraak, en omdat die spelers deur die borg en nie deur die DRV nie gekontrakteer is, kon hulle nie langer vir die nasionale span gekies word nie.

Die span het sedertdien die een ná die ander reusenederlaag gely, 395 punte in sy vyf wedstryde afgestaan, net 34 aangeteken, en hy kon geen enkele bonuspunt verdien nie.

Toeskouergetalle vir sy tuiswedstryde het boonop met amper 40% gedaal van ʼn gemiddeld van 3 475 per wedstryd verlede seisoen tot 2 018 vir sy wedstryd vanjaar teen Georgië in Offenbach. Die syfer teen Rusland is nie bekend nie.

Duitsland sal waarskynlik teen Portugal in ʼn promosie-relegasiewedstryd te staan moet kom, en dit lyk of hy sy REB-status (die vlak net onder die Sesnasiesreeks) sal verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.