Luiperds bespreek plek in eindstryd

Jeandré Rudolph (Foto leopards.co.za)

Jeandré Rudolph (Foto leopards.co.za)

Die Luiperds het Vrydagmiddag op Olënpark in Potchefstroom hulle plek in die eindstryd van die Curriebeker Eerste Liga bespreek deur die Valke met 40-30 die loef af te steek.

In die proses het hulle vyf drieë gedruk, en toe hulle na 20 minute reeds 15-0 voor was, is algemeen verwag die skrif is aan die muur vir die Valke. Maar die Luiperds het nie strykdeur die intensiteit van ’n kampioenspan getoon nie, en amper hul kanse verspeel om in die eindstryd te speel.

Die besoekers het hulle skuldig gemaak aan stringe hanteerfoute, iets wat die Luiperds uitgebuit het.

Met die Luiperds teen rustyd gerieflik 27-13 voor, sou min mense geld verwed op ’n Valke-oorwinning. Tog het die Oos-Randers na die waterbreek verwoed teruggeveg, met die skrumskakel Johan Pretorius wat twee keer gaan druk het.

Tot 10 minute voor die einde was die wedstryd nog in die weegskaal met die Luiperds wat slegs met sewe punte voor was.

Vir die wenspan het die kaptein Jeandré Rudolph en die vleuel Dean Gordon met hulle inklimspel beïndruk. Die Valke se slot Marlyn Williams het orals op die veld opgeduik, en sy hart uitgespeel.

Puntemakers – 

Luiperds (27) 40: Drieë: Jaco Jordaan, Johan Deysel, Bradley Moolman, Dean Gordon, Gene Willemse. Doelskoppe: Johan Deysel 3.Strafskoppe: Johan Deysel 3.
Valke (13) 30: Drieë: Marlyn Williams, Johan Pretorius 2. Doelskoppe: Karlo Aspeling 2, Warren Potgieter. Strafskoppe: Karlo Aspeling 2, Warren Potgieter 1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.