Luiperds: Dorp oorleef leeukuil, geles en al

potch-dorpPotchefstroom-Dorp het Saterdag `n besoek aan die leeukuil oorleef in `n wedstryd wat vier geel kaarte opgelewer het.

Hy het albei wedstryde teen Leeudoringstad in die Luiperds se Neserbekerreeks gewen: die eerste span 21-15 en die tweede 15-10.

Jan Janse van Rensburg, sê Dorp se eerste span was rustyd reeds 21-3 voor, maar die Leeutjies het teruggeveg en al 12 punte behaal wat die tweede helfte opgelewer het.

“Leeudoringstad het verbete aangeval, maar Dorp se verdediging in die rooi gebied en die span se lang asems het gehou om die deurslag te gee.”

Hy trek die skeidsregter se beheer oor die wedstryd in twyfel na aanleiding van die vier geel kaarte wat hy uitgedeel het – `n speler van elke span het by twee geleenthede gelyktydig die trekpas gekry.

Janse van Rensburg sê die agsteman, Fredrik Marais, wat as die speler van die wedstryd aangewys is, het `n pragdrie van `n skrum af gedruk. Hy het uitstekend verdedig en in die vaste fasette goed van die grond af aangeval.

Dorp se linkervleuel Johan de Kok het telkemale die verdediging geklop. Die plaasvervanger-flank, Attie Badenhorst, se spel by die afbreekpunte was op die aanval sowel as die verdediging besonder goed. Die plaasvervanger-stut Frank Redlinghuys jr het sy man in die skrum gestaan gestaan en die veld vol gespeel.

De Kok, Marais en Deon van Zyl (losskakel) het Dorp se drieë gedruk, en Van Zyl het al drie verdoel vir `n persoonlike totaal van 11 punte.

♦ Janse van Rensburg berig die tweede spanne se wedstryd het baie gelykop verloop en die rustydtelling was 5-5. Die Leeutjies het in die tweede helfte lank 10-5 voorgeloop eerdat Dorp dit weer gelykop kon maak.

“Die laaste paar spannende minute het werklik gewys waaroor klubrugby gaan. Dorp het in die laaste oomblik `n drie in die hoek gedruk om die wedstryd 15-10 te beklink.”

Hy meen die rooi kaart wat Dorp se haker in die vyfde minuut van die wedstryd op de lyf geloop het nadat hy `n beslissing van die skeidsregter bevraagteken het, het eintlik tot Dorp se voordeel gestrek.

“Die Leeutjies het die oorwig wat hulle in die skrums gehad het, verloor omdat daar nie nog `n haker beskikbaar was nie, en onbetwiste skrums die agttalle se voorland was.”

Jan Welgemoed, wat eers agsteman en toe senter gespeel het, het in al twee posisies uitgeblink en boonop `n drie gedruk. Gerrit Joubert (slot en kaptein) het van voor gelei en werklik die vuur onder die manne aangesteek. Sy slotmaat Henro du Preez het ondanks sy klein bou `n reusewedstryd gespeel en was oral op die veld betrokke. Ook hy het `n drie gedruk.

Die span se ander drie is deur die binnesenter, Jacques Wernich, aangeteken.

rustenburg warriorsJaap Steynliga

♦ Stilfontein se Hurricanes het Rustenburg Warriors Saterdag 15-7 in die Jaap Steynliga geklop.

Reinier Ras, die president van Warriors, laat weet albei spanne het deurentyd baie goed verdedig.

“Hurricanes het in die sewende minuut vir `n onverdoelde drie deurgeglip. Nog `n drie, dié keer verdoel, het in die 33ste minuut gevolg.

“Hierop het die Warriors langer as tien minute op die aanval geboer. Die Hurricanes het vyf strafskoppe in die 5-metergebied afgestaan voor die skeidsregter `n strafdrie ná `n hoogvat aan die Warriors toegeken en Roald Appelgryn (skrumskakel) dit verdoel het.”

Die rustydtelling was 12-7 in die Hurricanes se guns.

Ras sê albei spanne het ná die blaaskans uitsonderlik goed verdedig en die enigste punte was `n strafdoel deur die span van Stilfontein.

Ruan Kruger se skitterende duikslae en dryfspel het hom as die beste voorspeler laat uitstyg, en Darius Bekker se puik verdediging, werkverrigting in die gebroke spel en sy opwindende lopies met die bal in die hande het hom die beste agterspeler gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.