Luiperds het vergeet van Swart Desember

Sestig jaar gelede het die haaie amok gesaai in die rustige vakansiewêreld van Uvongo aan die KwaZulu-Natalse Suidkus – Swart Desember het hulle dit destyds genoem.

Dit was duidelik ver van die Luiperds se gedagtes toe hulle Saterdag die Sharks-vyftiental in die malse omstreke van die Douglas Mitchell-sportterrein op Uvongo in die Supersportreeks gaan aandurf het.

Nou sal hulle die merke van die verskeurende tande nog lank dra, nadat die tuisspan hulle met 32-5 (rustyd 15-5) verniel het.

Die Sharks se flank Jacques Vermeulen het drie van sy span se vyf drieë gedruk.

Voor dié wedstryd was die Luiperds die onoorwonne voorloper in die Sentrale Afdeling van die reeks.

Vrydag en Saterdag se ander wedstryde het almal veel mededingender verloop, en al drie verloorspanne is ʼn bonuspunt ryker omdat hulle die knie met sewe of minder punte gebuig het.

♦ Soos meermale in die verlede het die Vrystaters bo hul vermoë gespeel in die derbystryd in die Vrystaatstadion, Bloemfontein, teen hul Westelike buurman, Griekwas.

Die tuisspan was rustyd met 16-15 voor en twee minute voor die eindfluitjie met 30-25. Dis toe dat die Griekwa-vleuel Ederies Arendse die gelykmakende drie gedruk het, en die losskakel, George Whitehead, die oorwinning van 32-30 met die doelskop verseël het.

Held

Dis moes vir die ouer geslag Vrystaters amper gevoel het soos toenterjare toe hul president al op pad was om die Curriebeker in ontvangs te neem, en Pierre Spies en die Blou Bulle dit voor hul neuse weggeraap het.

♦ In slegs sy derde wedstryd vir die Boland, was die heelagter, Divan Nel, die bond se held deurdat sy vyf strafdoele die Kavaliers Vrydag in staat gestel het om hul eerste wedstryd vanjaar te wen.

Die besoekers het die lustelose spulletjie teen die Suidwestelike Distrikte op Outeniekwapark in George met 15-8 gewen nadat hulle rustyd met 9-5 voor was.

♦ In Port Elizabeth se Nelson Mandelabaai-stadion moes Grens die laaste rukkie kwaai walgooi teen die tuisspan se aanslae, maar hy het ysterklou in die grond geslaan, en die kragmeting Vrydag met 20-17 gewen.

Hy was rustyd met 15-5 voor.

Die puntemakers –

Sharks 32 (15) – Drieë: Jacques Vermeulen 3, John-Hubert Meyer, Kerron van Vuuren. Doelskoppe: Benhard Janse van Rensburg 2. Strafdoel: Benhard Janse van Rensburg.

Luiperds 5 (5) – Drie: Tapiwa Mafura.

Griekwas 32 (15) – Drieë: Tertius Kruger, Renier Botha, Enver Brandt, Ederies Arendse. Doelskoppe: George Whitehead 3. Strafdoele: George Whitehead 2.

Vrystaat 30 (16) – Drieë: JW Jonker, Joseph Dweba, Junior Pokomela, Gerhardus Olivier. Doelskoppe: Marco Mason, Marnus van der Merwe. Strafdoele: Marco Mason 2.

SWD 8 (5) – Drie: John Welthagen; Strafdoel: Leighton Eksteen.

Boland 15 (9) – Strafdoele: Divan Nel (5).

OP 17 (5) – Drieë: Gregory Jackson, Stefan Ungerer, Brandon Brown. Doelskop: Garrick Mattheus.

Grens 20 (15) – Drieë: Ntabeni Dukisa, Michael Makase, Yanga Xakalashe. Doelskop: Oliver Zono. Strafdoele: Oliver Zono.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.