Luiperds kry vyftigtal, maar Griekwas bly voor

Ryno Barnes en Steph Roberts - VodacombekerNiemand sal agterna kan sê dat die Luiperds nie hul bes gedoen het om een van die agt top unies in die Premierliga te word nie.

Dit het hulle Saterdag in Wellington in die Boland weer bewys toe hulle hul punteverskil selfs nóg groter laat groei het met hul yslike oorwinning van 55-23 teen die tuisspan, die Boland Kavaliers. Die manne van Noordwes het nege drieë ingeryg teen die Boland se twee.

Die Luiperds het oudergewoonte met rustyd reeds hul bonuspunt verwerf toe hul stewige regtervleuel, Luther Obi, oor is vir sy eerste en die span se vierde drie.

Na rustyd het hulle die krane oopgedraai en nog vyf keer gaan druk. Die Luiperds se punteverskil op die puntelys is nou 27 punte beter as dié van Griekwas.

* Ongelukkig vir die Luiperds het Griekwas Saterdag self nie op hulle laat wag nie. Die Poubloues het ses keer gaan druk en die Valke 40-25 geklop.

Daar het voorlangs ‘n groot stryd geheer en dit was Griekwas wat die beste daarvan afgekom het. Vier van hul ses drieë is boonop deur voorspelers gedruk.

Die puik baljagter-flank Marnus Schoeman se puik spel is met twee drieë beloon.

Al drie die Valke se drieë is in die tweede helfte gedruk. Ongelukkig vir die Oosranders kon Griekwas self weer drie keer druk en Willie Odendaal en sy manne moes sonder ’n ligapunt huistoe gaan.

Griekwas klou dus steeds vas aan hul een-punt voorsprong op die puntelys. Hulle moet die SWD Arende volgende naweek klop voor hulle op die groot honde in die Premierliga kan begin voorberei.

* Die eerste wedstryd van die afgelope naweek in hierdie kompetisie was inderdaad net van akademiese belang, maar die Griffons het nogtans gewys dat hulle beslis ’n krag sal wees in die Curriebeker se Eersteliga.

Nadat die Border Bulldogs die afgelope twee weke goeie rugby gespeel het, het die manne van die Noord-Vrystaat hulle Vrydagaand teruggebring aarde toe met ’n oorwinning van 41-15 in Oos-Londen.

Die Griffons het in hierdie wedstryd alle aspekte oorheers en ses keer gaan druk teenoor die tuisspan se twee drieë. Hoewel daar net 300 mense opgedaag het om op ’n yskoue Oos-Kaapse wintersaand hul span te ondersteun, was dit die Griffons wat die koue met vuurwarm hardlooprugby probeer verdryf het.

Die Bulldogs sal laaste eindig, maar die Griffons sal ‘n oog op die derde plek hê wanneer hulle die Valke volgende naweek aanvat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.