Luiperds se Potch-Dorp wil by Griffons speel

potch-dorp-320x217Potchefstroom-Dorp het aansoek gedoen om aanstaande jaar in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga te speel.

Annatjie Jordaan, die klub se sekretaresse, het dié inligting teenoor Pale Toe! bevestig.

Sy sê dit stel `n baie groot uitdaging aan die bestuur en afrigters, maar hulle het volle vertroue in die klub se spelers.

Sou Dorp se aansoek slaag, sal hy die vyfde Luiperdsklub word wat sy ligaheil buite die bond se grense soek in `n poging om sterker mededinging te vind.

Vaal Reefs en Klerksdorp het verlede jaar reeds saam met die Noordwesters se Noord-Vrystaatse bure gespeel. Die NWU Pukke speel reeds baie jare lank in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks, en Rustenburg Impala het die afgelope twee seisoene by die Blou Bulle `n tuiste gevind.

Bokke by glansdinee

Jordaan sê `n besonderse jaar vir die klub is op `n hoogtepunt afgesluit toe verskeie oud-Springbokke die klub se glansdinee in samewerking met SA Legends bygewoon het.

Stefan Terblance was die seremoniemeester, en Ray Mordt, Krynauw Otto, Warren Brosnihan, Attie Strauss en Danie Gerber het staaltjies uit hul rugbydae vertel.

Uitblinkers

Albert Griessel is as die beste senior speler bekroon, Luan Kruger as die beste junior speler en Thabiso Mothae as die beste opkomende speler.

Janus Lombaard en Frankie Redelinghuys het die prys vir die beste vordering gedeel.

Heelparty spelers is vir hul toewyding vereer – diegene wat by elke oefening was en gehelp het om die manne aan te spoor: Doynton Berry, Wian Koen, Wean Benadie, Janus Lombaard, Henro du Preez, Neil Pretorius, Jacques Wernich, Schalk Louw, Henco Burger en Werner Vorster.

Gerrit Joubert en Attie Badenhorst het erkenning gekry nadat hulle die afgelope seisoen vir die Luiperds-platteland gespeel het.

Erekleure is aan Ruveix de Bruyn, Boeta Burgers, Dirkie de Kock, Berry, Koen, Louis van Heerden en Chase Adams toegeken.

Nuwe voorsitter

Jan Janse van Rensburg het by die geleentheid ook die voorsitterskap aan Frank Redelinghuys oorhandig.

Laasgenoemde is `n oudspeler wat nou weer sy volle gewig by die klub ingegooi het.

Jordaan se die klub beplan om groot dinge onder sy leiding te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.