Luiperds se sege plaas Griekwas onder druk

luiperds logoDie uitslae van die afgelope naweek se wedstryde in die vyfde ronde van die Curriebeker Kwalifiseringstoernooi het nou finaal bevestig dat die wedloop om die eerste plek tussen net twee spanne beslis sal word.

Met ’n plek tussen die topspanne in die Curriebeker Premierliga op die spel, sal die Luiperds boonop moet hoop dat Griekwas in die volgende twee weke iewers vir hulle die agterdeur oopmaak deur óf teen alle verwagtings in te verloor óf nie daarin te slaag om volpunte op die puntelys te kry nie.

* Die Luiperds het in Welkom alles gedoen wat nodig was om hulself in die posisie te kry waar hulle Griekwas op die puntelys sal kan verbygaan as die geleentheid hom voordoen. Ná hul verwoestende oorwinning van 70-25 oor die Griffons is die Luiperds se punteverskil nou 95 – beter as Griekwas (85), wat steeds een punt voor hulle op die puntelys is.

Die Luiperds sal dus hoop dat Griekwas in een van hul volgende twee wedstryde ten minste nie daarin slaag om ’n bonuspunt-oorwinning te behaal nie. Dit sal aan die manne van Potchefstroom die geleentheid gee om die Griekwas op die puntelys in te haal.

In Saterdag se wedstryd teen die Griffons het die Luiperds ’n kliniese vertoning gelewer waarin hulle duidelik daarop uit was om so veel moontlik punte aan te teken. Hulle het uiteindelik tien drieë gedruk.

* In die eerste wedstryd van die naweek het die Border Bulldogs op hul tuisveld in Oos-Londen weer gewys dat hulle besig is om te herstel ná die moeilike paar seisoene wat hulle agter die blad het. Die SWD Arende moes alles uithaal om net-net met 33-31 te wen.

Hoewel die SWD Arende vyf drieë teen die tuisspan se drie gedruk het, was dit Masixole Banda se akkurate skopvoet wat die Bulldogs die heeltyd binne trefafstand kon hou.

Dit was die Bulldogs se tweede agtereenvolgende goeie vertoning en dit lyk of Blake Kyd en sy manne reg is om in die Curriebekerseisoen wat voorlê meer as net blote deelnemers te wees.

* Die Boland Kavaliers het teen die verwagting in die Valke in die Barnard-stadion in Kempton Park met 35-20 geklop nadat die Valke die afgelope weke baie goeie vertonings gelewer het.

Die Bolanders was op hul stukke en hulle het vier drieë teenoor die Valke se twee gedruk. Die Valke het egter laat in die wedstryd hul ritme gevind en mooi teruggeveg nadat hulle met rustyd nog 3-20 agter was.

Met hierdie nederlaag is die Valke se buitekans om as die topspan in die reeks te eindig ook finaal gekelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes ·

Mooi Boland ek is glad nie ‘n Valke fan nie of skoon ek nie ver van Kempton bly nie maar dit is soos baie mense wat jare al hier op die rand bly of gebore is wat of die Bulle Stormers of Saarks ondersteun welgedaan Boland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.