Luiperds soek na groot sege in Potch

Curriebeker-logoTerwyl Griekwas hierdie week hul loslootjie in die Curriebeker kwalifiseringskompetisie nuttig gebruik het, sal die Luiperds die naweek hul vlam van hoop lewend probeer hou deur ’n groot oorwinning teen die Griffons te jag.

Griekwas se bestuur het besluit om hierdie week te gebruik om voorraadopname te doen van die diepte in Kimberley, nadat ’n paar manne wat beseer was herstel het. Hulle het in die proses gewys hoe ernstig hulle is om terug te keer na die Premierliga deur die Pumas in ’n oefenwedstryd in Kimberley te klop.

Ter versagting van die Pumas se nederlaag moet darem ook gesê word dat hulle self ’n hele paar proefnemings gedoen het en nie met hul beste span in Kimberley gaan speel het nie.

* Die Luiperds het egter steeds ’n moeilike taak wanneer hulle die Griffons eerskomende Saterdag in Potchefstroom ontmoet. Hoewel die manne van Welkom nie meer hierdie reeks kan wen nie, is hulle ’n trotse en baie gevaarlike span.

Die Griffons het die afgelope naweek weer gewys dat hulle enige span in hierdie kompetisie se verdediging tot die uiterste kan beproef toe hulle daarin geslaag het om vier drieë teen Griekwas te druk, al het hulle steeds teen die Poubloues verloor. Daarom is ’n oorwinning vir die Luiperds geen uitgemaakte saak nie.

Aan die ander kant sal die Luiperds so gou as moontlik hul swakker punteverskil teenoor die Griekwas wil verbeter en daarom sal hulle waarskynlik hoop vir ’n groot oorwinning oor die Griffons. Die Luiperds sal volpunte moet jag en hul punteverskil moet verbeter en dan hoop Griekwas val iewers vorentoe vas of slaag nie daarin om vier drieë te druk in hul laaste twee wedstryde nie.

* Intussen sal die SWD Arende hul bure in Oos-Londen Vrydagaand al besoek in die naweek se eerste wedstryd in hierdie Curriebeker kwalifiseringstoernooi. Ná die Border Bulldogs se verrassende vertoning teen die Valke verlede naweek, behoort die Arende hulle heelwat ernstiger op te neem as wat die geval ’n paar weke gelede sou wees.

Nie een van hierdie twee spanne het meer ’n realistiese kans om die kompetisie te wen nie, maar daar sal beslis eer op die spel wees. Grens is boonop blykbaar in die proses om hul probleme agter hulle te plaas en op hul spel te konsentreer en dit lyk of die nuwe strukture van manne soos Eugene Eloff besig is om vrugte af te werp in Oos-London. Dít kan net goeie nuus vir rugby in die Oos-Kaap beteken.

* In die ander wedstryd van eerskomende naweek in hierdie reeks sal die manne van Boland na die Oos-Rand reis om die “nuwe” span van die Valke op die Barnardstadion in Kempton Park te ontmoet.

Die Valke het intussen ontpop as die enigste ander span naas Griekwas en die Luiperds wat nog ’n redelike buitekans het in die reeks, aangesien hulle self nog teen Griekwas moet speel, terwyl hulle sal hoop dat die Luiperds in een van hul laaste drie wedstryde sal vasval.

hy reeds uitgeskakel is,beskik die manne van Wellington oor die vermoë om kookwater rugby te speel as hulle die dag aangeskakel is.

Hierdie wedstryd behoort baie opwindende rugby op te lewer, aangesien albei spanne daarvan hou om die bal lug te gee.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.