Luiperdsliga: Jaap Steyn-kampioen nog nie geklop

Die Luiperds-rugbyunie (LRU) se verdedigende Jaap Steyn-kampioen is nog nie vanjaar in die liga geklop nie.

Zeerust het dit Saterdag ses uit ses gemaak deur Matlosana met 49-17 te klop.

Ouboet Schutte, Zeerust se voorsitter, sê die span se haker, Gideon van den Heeveer, het heeltyd aan die spits gewoel en was die beste voorspeler.

“Bowen van As (heelagter) het Zeerust gereeld met wanhopige duikslae gered.”
Rudolf Oosthuizen het 19 van die wenspan se punte met ʼn drie en sewe uit sewe doelskoppe aangeteken.

Benewens ʼn strafdrie het Henno Coetzee, Jacques Cilliers, Louis “Viking ” Swanepoel, Hein Kruger en Dirk Swart ook gaan druk.

Vir Matlosana het Olwethu Msengana, Sonzezo Mxiba en Masibulele Vivashe drieë gedruk. Yamkela Nyembe het een verdoel.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié liga het Potch Tigers van Promosa met 23-15 teen Ikageng Lions gewen.

Arno Roems, Tigers se losskakel en woordvoerder, laat weet Ikageng het die eerste punte met ʼn drie behaal (5-0), waarop Tigers met ʼn strafdoel geantwoord het (5-3). Ikageng het weer gaan druk, en Tigers het met nog `n strafdoel teruggeslaan (rustyd 10-6).

Roems sê hardlooprugby het die eerste helfte gekenmerk en verbroude duikslae deur die Tigers het Ikageng toegelaat om die botoon te voer.

“Tigers het in die tweede helfte gebiedsvoordeel begin geniet, en die skrums en die lynstane oorheers, maar ʼn teenaanval het nog ʼn drie vir Ikageng opgelewer (15-6).”

Roems het die Tigers in die prentjie gehou toe hy 20 minute voor die einde met ʼn strafdoel geslaag het (15-9).

“Tigers het hierop die bal wyd begin versprei en deur die buitenste kanale aangeval. Dit het tot twee drieë deur die vleuel Roman Slambert gelei.”

Roems het albei verdoel om altesaam 13 punte by te dra.

“Tigers het durf getoon deur diep te delf, en as ʼn span saam te speel toe dit saak gemaak het. Dit kan die wedstryd wees wat die skaal in die klub se guns swaai,” het Roems aan Pale Toe! gesê.

Opgesomde punteleer –

Zeerust 27, Rustenburg Warriors 19, Westonaria, 17, Matlosana 17, Hurricanes 15, Pothefstroomse Landboukollege 15, Koster 14, Leeudoringstad 9, Klerksdorp III 6, Potch Tigers 4, Ikageng 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.