Luiperdsliga: klub wen vir oorlede spanmaat

Wyle Cody Mulligan (Foto: Facebook)

Wyle Cody Mulligan (Foto: Facebook)

Lichtenburg het Saterdag gespeel ter ere van `n spanmaat wat gesterf het nadat hy sowat drie weke tevore in `n duikslag op die rugbyveld beseer is.

Cody Mulligan se nek is in die negende minuut van Lichtenburg se Neserbekerwedstryd teen Leeudoornstad beseer en hy is Saterdag in `n hospitaal in Pretoria oorlede.

Darius Venter, die hoofafrigter van Lichtenburg, sê met dié skokkende nuus het die span onder moeilike omstandighede teen Fochville gespeel, maar besluit om ter ere van Mulligan wel te speel en het albei wedstryde gewen.

Die eerste span het 24-15 en die tweede 75-12 gewen.

Venter sê Tjaart Benadé, wat twee drieë gedruk het, was een van die uitblinkers.

Marnus Venter en Jan Alberts het die ander drieë gedruk en JG ten Cate het twee verdoel.

♦ Die tweede span se plaasvervanger-losskakel, Jan-Wessel Meyer, het `n besonder goeie wedstryd beleef en 24 van sy span se 75 punte aangeteken.

Hy het twee drieë gedruk en was met sewe doelskoppe in die kol.

Venter sê die span het as `n eenheid goed saam gespeel, maar naas Meyer het die senter Tian Knoetze – wat drie drieë gedruk het – ook die oog gevang.

Lalie de Melim, Marius Grové, Jannie Meyer, Junior Snyman (2) en Heinz van Heerden het die ander drieë gedruk en Dries Meyer het nog twee verdoel.

potch-dorp♦ Potchefstroom-Dorp het sy 125ste verjaardag gevier (al het hy eintlik verlede jaar al verjaar) met wedstryde teen Vryburg en Mafikeng.

James Stoffberg, visevoorsitter van die SA Rugbyunie (Saru) het `n gedenkplaat namens die nasionale liggaam aan die klub oorhandig.

Vryburg het Potch-Dorp 27-26 in die hoofwedstryd geklop (`n wedstryd in die Luiperds se Neserbekerreeks), en Dorp II het Mafikeng I 43-19 verslaan.

Jan Janse van Rensburg, Potch-Dorp se woordvoerder, sê die tuisspan het met `n agterstand begin aangesien die twee eerstekeusestutte nie beskikbaar was nie, en Niel Pretorius en  Erhardt de Villiers inderhaas geslyp moes word om hul plekke vol te staan.

“Op die koop toe het die span twee geel kaarte op die lyf geloop. Eers is die kaptein Ruveix de Bruyn, onses insiens onbillik omdat daar nie `n waarskuwing was nie, gestraf vir `n onwettige afneem van die bal; daarna het die haker Michael Peterson ook `n geel kaart gekry.

“Vryburg was rustyd 17-0 voor, maar Dorp het in die tweede helfte na `n hoër rat oorgeskakel en sterk teruggeveg. As die wedstryd slegs twee minute langer geduur het, kon hy gewen het.”

Janse van Rensburg sê die flanke Lesley Koekemoer en Leander Swart was was albei deurentyd druk besig by die afbreek punte en Koekemoer het `n drie gedruk.

“Die losskakel Rynard Brits het twee besonderse individualistiese drieë gedruk en sy spel in die tweede helfte was met tye skouspelagtig.

“Die `kitsstutte’ Pretorius en De Villiers het op die ou end werklik uitgeblink.”

Naas Brits en Koekemoer het Peterson `n drie gedruk en die agsteman Albert Griessel het drie verdoel.

♦Fiksheid en puik balverspreiding het die tweede span se goeie sege onderlê. Die span het die tempo in die tweede helfte gemaklik versnel.

Janse van Rensburg sê Armand du Preez het homself bewys as `n agtsteman van formaat. Sy verdediging was briljant en hy het op die koop toe `n driekuns aan drieë behaal.

Michael Fulton op die nommer 7- flank het besonder goed gespeel en met sy onvermoeide ywer twee drieë gedruk.

“Die plaasvervanger-haker Jan Welgemoed het ongelooflik hard by die afbreekpunte gewerk en het self verskeie kere die lyn gebreek.

“Dorp se kaptein Luan Kruger het van voor gelei en die voorspelers het `n goeie basis vir mooi hardlooprugby daargestel.”

Benewens Du Preez en Fulton het die buitesenter Lorenzo Malgas en die slot Ferro van Greunen drieë gedruk. Malgas het voorts vier drieë verdoel vir `n persoonlike bydrae van 13 punte.

rustenburg warriors♦ In die Jaap Steynliga het Rustenburg Warriors vir Matlosana 52-32 geklop.

Renier Ras, die president van Warriors, sê albei spanne het hardlooprugby gespeel en die drieë was oor die wedstryd versprei.

“Die Warriors se redding was dat hulle die volle 80 minute gespeel en beter pale toe geskop het.”

Hy sonder die slot Sipho Mama uit vir sy goeie lakwerk, ondersteunende spel, die wyse waarop hy met die bal gehardloop het, puik kommunikasie en kalmerende invloed op sy spanmaats. Hy is as die speler van die wedstryd aangewys.

Francois Nickolas en Damien Devaney se vertonings verdien ook vermelding.

Alwyn van Antwerpen, Devaney, Nickolas (3), Christo Brunette, Niel Koegelenberg en Roald Appelgryn het die Warriors se drieë gedruk. JJ Sherman en Appelgryn (5) het doelskoppe bygedra, wat laasgenoemde se bydrae op 15 punte te staan bring.

Ander uitslae –

Jaap Steynbeker

Klerksdorp o.21 29, Koster 0; Westonaria 14, Zeerust 12.

Opgesomde puntelere –

Neserliga 1

Lichtenburg 14, Potch-Dorp 11, Vryburg 9, Leeudoringstad 4, Fochville 2, Lonmin 1.

Neserliga 2

Lichtenburg II 14, Potch-Dorp II 9, Mafikeng I 5, Fochville II 4, Lonmin II 1, Leeudoornstad 0.

Kyk volledige punteleer by http://sportlogs.co.za/leopards/neser-league-log/.

Jaap Steynliga

Hurricanes (Stilfontein) 15, Klerksdorp o.21 12, Zeerust 11, Westonaria 11, Coligny 6, Rustenburg Warriors 5, Matlosana 5, Potch Tigers 2, Ikageng 0, Koster 0.

Kyk volledige punteleer by http://sportlogs.co.za/leopards/jaap-steyn-league/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.