Luiperdsliga: koedoe bring stryd tot stilstand

JJ Sherman van Rustenburg Warriors jaag `n jong koedoe wat saam wou rugby speel van die veld af.

JJ Sherman van Rustenburg Warriors jaag `n jong koedoe wat saam wou rugby speel van die veld af.

Die wedstryd tussen Rustenburg Warriors en Koster in die Jaap Steynliga Saterdag op Koster is tot stilstand gebring toe `n jong koedoe skielik sy verskyning op die veld gemaak het.

Van die spelers het die bok afgejaag en die spel kon voortgaan.

Warriors het op die ou end die wedstryd 23-18 gewen.

Renier Ras, die president van Warriors, sê dis blykbaar `n mak koedoe van die Hoërskool Koster wat daar rondloop, en hy het die spel darem net so drie-vier minute lank vertraag.

Hy laat weet wat die rugby betref het die Rustenburgers stadig begin en was hulle rustyd 12-13 agter.

“Hul goeie ondersteunende spel en volgehoue aanval gepaardgaande met puik verdediging het  eindelik die oorwinning teen `n gedugte Kosterspan verseker.”

Hy berig Pieter du Plessis was die voorspeler van die wedstryd met sy baie goeie werk in die skrums, lynstane en losspel, en sy uitstekende verdediging. Eon Viljoen was die agterspeler van wedstryd vanweë sy knap verdediging, puik taktiese skoppe en die wen van los balle. Albei het 80 minute lank met hul goeie werk volgehou.”

Francois  Nicholas, JJ Sherman en Damien Devaney het elk `n drie gedruk, en Darius Bekker het twee strafdoele en `n doelskop in punte omskep.

Ras sê die afrigters John Griffiths, Zandré Bosse en Andries Snyman lewer goeie werk met die brei van die spelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.