Luiperdsliga: naaswenner ruk benadering reg

luiperds logoDie naaswenner verlede jaar van die Luiperds se Neserliga, Lichtenburg, glo sy benadering is reg om die liga vanjaar te kan wen.

Darius Venter, die hoofafrigter van die klub, wat in die Neserbeker-eindstryd 29-10 deur `n opportunistiese Lonmin geklop is, sê sy span het hard aan `n beter benadering gewerk en behoort nie sommer weer op die verkeerde voet betrap te word nie.

Die klub spog met 63 ingeskrewe spelers en het `n klompie puik aanwinste gekry, onder andere Vean Roodt, `n stut of haker wat verlede jaar vir die Goue Leeus se o.20-span gespeel het, en Christopher de Mellin, `n belowende jongeling van Griekwas af.

Venter sê Lichtenburg se voorseisoense program het goed verloop met seges oor Stilfontein, oor die Klerksdorp Askaris, en oor `n Barbarianspan wat uit spelers van Pirates (Johannesburg), Potchefstroom-Dorp en die Askaris saamgestel is.

Lichtenburg I en II begin die seisoen Saterdag tuis teen Leeudoringstad.

In die ander Neserbekerwedstryde speel Vryburg teen Fochville op Vryburg, en Mafikeng teen Fochville II op Mafikeng.

Die Neserkampioen, Lonmin, is nie Saterdag in aksie nie.

In die bond se Jaap Steynliga speel (tuisspanne eerste) Matlosana teen Ikageng, Potch Tigers teen Klerksdorp Askaris, Koster teen die Stilfontein Hurricanes, Coligny teen Westonaria, en Zeerust teen die Rustenburg Warriors.

♦ Die Luiperds se vier superspanne speel verspreid in ander bonde se ligas.

Die NWU Pukke speel jare lank reeds in die Goue Leeus se Pirates-grootuitdaagreeks en het dit al meermale gewen; Rustenburg Impala speel vanjaar in die Blou Bulle se Carltonreeks; en Klerksdorp en Vaal Reefs in die nuwe Griffons-Luiperdsliga.

Die twee senior reserwespanne Brits en Hartbeespoort speel aljare in die Blou Bulle se ligas en neem vanjaar onderskeidelik deel in wat nou as die B- en C-afdeling van die Carltonreeks bekend staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.