Luiperdsliga: Zeerust maak dit tien uit tien

Zeerust het dit Saterdag tien uit tien gemaak en die rondomtalie van die Luiperds-rugbyunie se Jaap Steynliga onoorwonne afgesluit.

Die verdedigende kampioen het Stilfontein se Hurricanes met 33-19 geklop.

Ouboet Schutte, Zeerust se sekretaris, sê dit was ʼn klipharde wedstryd wat in ʼn goeie gees beslis is.

“Zeerust het nou ʼn loslootjie terwyl ander dit om die tweede, derde en vierde plek uitspook.”

Siegie Schutte, Hein Kruger, Michael Scheepers en Gilwin Lee-Phillip het Zeerust se drieë gedruk. Rudolf Oosthuizen het tien punte met twee doelskoppe, ʼn strafdoel en ʼn skepdoel aangeteken. Zann Diedericks het ook met ʼn skepdoel geslaag.

Vir Stilfontein het Riaan Maritz, Louis van der Westhuizen en Stephan Henderson gedruk. Corrie Jansen van Vuuren het twee verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae