Luiperdsliga: Zeerust maak geskiedenis

zeerustZeerust het Saterdag geskiedenis gemaak deur die eerste keer in sy bestaan die Luiperds se Jaap Steynbeker te wen.

Hy het Westonaria, die 2013-kampioen, 22-18 op die veld van die Laerskool Zeerust geklop, nadat hy die afgelope drie jaar ook die eindstryd gehaal het, maar nooit die knoop kon deurhak nie.

Jaco Smit, die nuwe kampioen se voorsitter, sê dis algemeen aanvaar dat dit g’n maklike stryd sal wees nie, en die emosie het hoog geloop toe die Zeerustse spelers by die veld aankom en die groot getal toeskouers `n erewag gevorm het om hulle vir die stryd aan te moedig.

“Die spanne het mekaar van die afskop af met heup en skenkel geslaan in `n poging om die eerste punte aan te teken.

“Zeerust het rustyd 17-10 voorgeloop en Westonaria het ná die blaaskans alles in die stryd gewerp. Hy het punte behaal en die voorsprong laat krimp.

“Die tuisspan se ondersteuners het benoud geraak dat die span soos in die verlede weer sal gly.”

Smit sê Zeerust het in die tweede helfte grootliks verdedig – en die laaste tien minute `n “oneindig moeilike stryd” met 14 spelers gestry toe herhaalde oortredings by die afbreekpunte tot `n geel kaart gelei het.

“Die eindfluitjie is met oorweldigende oorgawe en dankbaarheid begroet, en dit was `n klompie baie verligte spelers wat onder `n oorweldigende gejuig as kampioen van die veld gestap het.”

Hy sonder Zann Diederick, Lenord Horn, André Swart, Rudolf Oosthuizen, Hennie Pretorius, Marnus Joubert en Hein Kruger as die grootste uitblinkers uit.

Diederick (twee) en Kruger het Zeerust se drieë gedruk. Oosthuizen het twee verdoel en met `n strafdoel geslaag.

(Klubbesture landwyd word genooi om bondige wedstrydverslae Maandae voor 11:00 vir publikasie aan Pale Toe! by [email protected] te stuur.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.