Maak dit weer ʼn Super14-reeks

sanzaar-grootEen van die belangrikste en mees verreikende besluite oor die toekoms van die Superrugbyreeks sal oor die volgende paar dae in Dublin geneem moet word.

Dis nie as nie, maar met hoeveel spanne die reeks gesny sal word, want 18 spanne deug nie, al het Sanzaar ons dit probeer wysmaak.

Die heel logiese besluit is dat die Japanse Sunwolves, een of twee spanne van Australië en ʼn Suid-Afrikaanse franchise in die slag moet bly.

Nieu-Seeland sal sê “los ons uit,” want hulle spanne vorm die ruggraat van die reeks.

Die Sunwolves  is die grootste tameletjie, want hulle kom eenvoudig nie die mas op nie. Dis omdat die beste Japanse span nie in die reeks speel nie, maar die Sunwolves ʼn saamgeflanste span is wat op verskeie buitelanders moet staatmaak om mee te ding.

Sal Sanzaar Japan kort voor die volgende Wêreldbekertoernooi in die rug skop? Nee.

Die Jaguares is veilig, daarvoor sal die charismatiese ondervoorsitter van Wêreldrugby, Agustin Pichot, sorg. Dié oud-skrumskakel van die Poemas het jare lank sy arms afbaklei om die Jaguares in die reeks te kry, om só te sorg dat Argentinië se beste spelers tuis bly en die Poemas baat daarby vind. Dus nee!

Australië het reeds vrede daarmee gemaak dat minstens een, dalk twee spanne die trekpas sal kry. Australiese rugby sal baat vind by dié stap, want daar is nie genoeg spelers van gehalte om vyf spanne te regverdig nie. Dit beteken dat die Waratahs en Reds veilig is en dat die Brumbies, Force en Rebels  om die bykomende plek(ke) moet uitbaklei.

Suid-Afrika sal ook ʼn span – dalk nog twee – moet inboet. Kom ons wees eerlik, die Southern Kings sal op papier plek moet kry.  Maar sal dit gebeur?

Maar wat sal gebeur as twee spanne nie die valbyl vryspring nie?

Die Lions? Nee, want hulle het immers verlede jaar in die eindstryd gespeel.

Die Stormers? Nee, want hulle lok die grootste skares en is verlede seisoen eers in die uitspeelrondes geklop.

Die Bulls? Nee. Net so die Sharks.

Wie bly oor? Die Cheetahs.

Maar is dit enigsins regverdig om die Curriebekerkampioen op te offer? Kyk maar net hoe speel die Cheetahs, op senior en junior vlak. Kyk maar net hoeveel spelers hulle ontwikkel.

Hou dus maar duim vas dat net een Suid-Afrikaanse franchise sal sneuwel, want daar sal reeds ʼn geween en gekners van tande wees as die Kings hul status verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Honibal ·

Op huidige vorm moet die Blou Bulle (lees die Bulls) saam met die Kings die trekpas kry. Beide spanne hoort nie daar nie en historiese welslae of die gebrek daaraan hoort nie ‘n rol te speel in die besluitneming nie.

Dus, dan is dit totsiens Bulls en Kings.

Se net ·

Honibal, kom ons kyk wie eindig heel onder tussen die SA spanne aan die einde van die SR seisoen, kan jou waarborg dit sal maaar weer die Cheetahs en die Kings wees.
Bulle het met ‘n swak vertoning met 6 punte teen ‘n top vertoning deur die Cheetahs verloor in Bloemfontein. Kom ons wag dat die Cheetahs buite Bloem speel, jy sal ‘n rude awaking kry, ons sien mos nou al jare hoe dit werk…..

Frans C ·

Die maklikste oplossing sou wees om terug te keer na ‘n indeling wat in die jaar toet bestaan het.nl bring die ‘ou Transvaal wat bestaan het voor die afstiging van Noord Transvaal,Oos Transvaal ens. terug.

Maar ek is bevrees dit sal nie gebeur nie daar is te veel geskiedenis wat so’n stap sal kelder.Tog is dit ‘n logiese oplossing want die Lions/Cheetah het veral om geografiese redes misluk,terwyl die Bulle en Leeus buurmanne is.

Jack Russl ·

Om spanne te sny is nie ‘n opsie nie. Maak nie saak waar daar gesny word en hoe logies dit ook mag lyk nie deur ‘n span te sny gaan daar baie ontevredenheid wees, onder die ondersteuners en die spelers. SA en Aus het nie die diepte om al hulle spanne kompeterend te maak teen NZ nie. SA en Aus sit alreeds met ‘n probleem dat baie spelers in ander dele van die wereld speel. Word spanne gesny is daar heel moontlik toekomstige springbokke en wallabies wat landuit gaan omdat hulle nie die span maak by groot unies nie. Huidiglik is daar 6 spanne in SA, so daar is plek vir minimum 136 (6 x 23) spelers. As daar 2 spanne gesny word is daar net plek vir minimum 92 (4 x 23) spelers. Heelwat spelers wat dan buiteland toe gaan en verlore gaan wees vir SA rugby.

Volg europa se formaat en stel divisies in. Boonste 9 en onderste 9. Elke span speel weg en tuis teen elke span in die divisie. Dan promosie/relegasie aan einde van die seisoen. Die formaat is dan tog duidelik vir almal en sterk spanne kompeteer teen sterk spanne.

Hanrick ·

Ek se al ‘n paar jaar dat hulle dit in twee divisies moet speel met promosie/relegasie. B divisie se wedstryde kan op Woensdae en Donderdae gespeel word. Dan het ons Maandae Varsity Cup, Woensdae en Donderdae Super rugby B divisie en Vrydae, Saterdae en sommige Sondae Super rugby A divisie. Dan moet hulle die nuwe Supersport Rugby Challenge kompetsie se wedstryde op Dinsdae laat speel.

Dan het ons elke dag van die week rugby om te kyk. Meer wedstryde om op te wed. As sport wedder kan daar nooit vir my te veel rugby wees nie. Hoe meer wedstryde, hoe meer geleenthede om te wed.

Koos1 ·

Ek stem nogal vir die divisies, maar dit gaan weer ‘n ander tamaletjie skep. Boonste divisie sal beter daaraan toe wees wat borgskappe ens. betref. Tans speel die Bulls so sleg (ek is ‘n ondersteuner, maar sonder oogklappe) dat ek dink dit sal hulle goed doen om uitgelaat te word (eintlik meer my hart goed doen!).
Ek dink tans net daar is te veel rugby, veral in die 15 man formaat. Kyk bietjie hoe gewild is die 7’s. Dalk is dit tyd om die hele rugby ding te oordink en miskien te “overall”?

Jack Russl ·

Ja, dit is waar die organiseerders mooi sal moet dink. Die model werk in europa.

Die top spanne sal meer borgskappe kry as die swakker spanne, dus moet daar gekyk word hoe die tv gelde geallokeer word sodat dit in ‘n mate gebruik kan word om swakker spanne by te staan. Daar is geen nut om die top span wat met die meeste borge sit dan ook die grootste stuk gee uit die tv gelde nie, dit sal net verseker dat die kompetisie eensydig bly.

Nico K ·

Daar moet beslis minder spanne. Ek sal maklik terug gaan na die ou super 10. Die top 3 (2,4?) spanne in die Curriebeker reeks gaan deur na die Super 10 (8,12?). Dan word die Curriebekerreeks ook weer belangrik. Die groot belangstelling bly maar as die plaaslike spanne teen mekaar speel. Min mense kyk na ‘n wedstryd tussen bv. die Leeus en Rebels. Iets soos die Euro beker in sokker.

Jack Russl ·

Soos dinge nou staan sal dit nooit werk om die currie beker te gebruik om SR spanne te kies nie. Daar word heelwat veranderinge aan spanne aangebring aan die einde van die CC seisoen, so jou CC span wat jou laat kwalifiseer vir die SR lyk baie anders as die span wat SR speel.

Enigste manier om dit te laat werk is om CC eerste te speel en dan SR, dit kan nie meer oorloop van een jaar na die volgende nie

Nico ·

Die kompetisie moet in sy geheel geskrap word en terug keer na ware toere met weeksdag wedstryde soos van ouds. Dit is waar die ware ontwikkeling plaas gevond het. So kan die lande se plaadlike kompetisies soos ons Curriebeker weet blom want dan kan nasionale spelers weer vir hul provinsies speel. Toeskouers sal dan weer na wedstryde gaan kyk. En ja ek dink mie die lande sal swaar key mie want tv regte sal mog atyd hoogtste prioriteit geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.