Maak Duane nóú Bokkaptein

Duane Vermeulen (Foto: stormersrugby.com)

Duane Vermeulen (Foto: stormersrugby.com)

Daar bestaan by my geen meer twyfel nie, die Springbokafrigter, Heyneke Meyer, moet Duane Vermeulen as sy nuwe Bokkaptein aanwys en hoe gouer, hoe beter.

Dit gaan nie help om nog `n paar maande te wag om te kyk of Jean de Villiers van sy ernstige kniebesering voor die Wêreldbekertoernooi sal herstel nie. Die toernooi vind oor minder as 180 dae plaas en die Bokke speel voor dit in die Rugbykampioenskappe teen die All Blacks, Wallabies en Poemas.

Meyer is baie gesteld op lojaliteit en spandinamika, maar in belang van Bokrugby moet Plan B nou ingestel word. As De Villiers betyds herstel, moet hy nog bewys dat hy geen nagevolge van die besering oorgehou het nie. As hy jonger was (en `n beseringsvrye loopbaan gehad het) sou dit meer sin gemaak het om nou reeds met hom vas te byt. Dis maar hoe dit in rugby gaan.

Daar sal ook raakgevat moet word met `n nuwe binnesenter, `n nuwe senterkombinasie en dit gaan nie oornag gebeur nie. Kan Damian de Allende met vrug binnetoe geskuif word, moet Jan Serfontein nie dalk die Bokke se nr. 12-trui dra nie en wat van Frans Steyn se aansprake? Wat van Handré Pollard (ek sou dit beslis nie oorweeg nie) buitentoe toe skuif en Pat Lambie die toutjies as losskakel laat trek?  En o ja, dan is daar nog die byna-vergete Juan de Jongh.

Voor die seisoen was daar effe kommer oor Vermeulen se gebrek aan ervaring as kaptein, maar hy, en die Stormers, het dit binne die eerste vier weke van die Superrugbyreeks uit die weg geruim. Saterdag was daar sewe Bokke in die Stormers-span, teenoor die Sharks se 11, en die Engelse stut Matt Stevens. Vir diegene wat nie weet nie, die Stormers het die Sharks met 29-13 getrap.

Vier gespeel, vier gewen en die velle van die Bulls, Lions en Sharks (en Blues) hang teen Nuweland se muur.

Vermeulen is 120% seker van sy plek (nie soos John Smit in 2007 se WB-toernooi toe Bismarck du Plessis die beste haker was nie). Ja, ja, ja die Bokke het die toernooi gewen en niemand kan daarmee stry nie, maar …

Wat verder in Vermeulen se guns tel, is dat sy spelpatroon soos `n handskoen in Meyer se bloudruk plaas. Groot, sterk en vurig. Boonop was hulle in dieselfde dorp op skool,  Vermeulen was op die Hoërskool Nelspruit, Meyer op Bergvlam.  Dis klein dingetjies soos dié wat die band verder versterk, hulle doen en dink dieselfde, hulle vul mekaar aan.

Vermeulen is baie gewild onder sy mede-spelers. Afgesien van sy onlangse toekenning as Suid-Afrika se rugbyspeler van die Jaar (ook die Superspeler van die Jaar) het die spelers hom as die spelers se speler van die jaar vereer. Sy toespraak daardie aand het selfs die manne in die blomkoolore se oë natterig gemaak.

Wêreldwyd het hy erkenning geniet en dit was eintlik lagwekkend dat Brodie Retallick verlede jaar bo hom as Wêreldrugby (die ou Internasionale Rugbyraad) se speler van die jaar aangewys is.

Die grootste bres wat hy geslaan het, was sowat `n maand gelede teen die Blues toe die slot Hayden Triggs hom met `n paar vuishoue toegetakel het. Vermeulen het die ander wang gedraai en nie teruggeslaan nie, want hy doen (nou) sy dinge op `n ander manier op die veld en het genoeg tyd gehad om dit reg te stel.

Wie is ook in die wedloop as Bokkaptein? Victor Matfield, Adriaan Strauss, Bismark du Plessis, Schalk Burger, Pierre Spies?

Vermeulen troon uit en dis hoekom hy die volgende paar maande reg bestuur moet word en hier en daar met hom briek aangedraai moet word. Hy steek nooit sy lyf weg nie sal selfs met ribbesering (onthou verlede jaar) die grotes aandurf.

Maar die een of ander tyd kan `n dure prys betaal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Matfield, Bismark en Schalk het baie meer ervaring op die vlak! Vermeulen is ‘n goeie speler en ‘n moet in die wereldbeker, maar nog nie as kaptein nie, sy tyd sal kom! Pieter is natuurlik soos afgelei kan word uit sy artikel ‘n duidelike Stormer ondersteuner, daarom die sentiment !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.