Maak of breek vir die WP op Nuweland

currie cup logo 2016.jpgDie naweek se uitsoekwedstryd in die derde ronde van vanjaar se Curriebekerreeks is ongetwyfeld Vrydag dié tussen die Westelike Provinsie en die Vrystaat Cheetahs op Nuweland (afskop 17:10).

Die Goue Leeus speel in Kimberley teen Griekwas (afskop Saterdag 14:10). Hulle sal self nie sommer net kan opdaag nie, terwyl die Blou Bulle tuis die OP Kings  seker sal verinneweer (afskop Vrydagaand 19:10). Die Sharks behoort in Wellington die Boland Kavaliers redelik maklik kaf te draf (afskop Vrydag  15:00).

♦ Vir die WP is dit maak of breek. Hulle het ʼn stewige loesing teen die Blou Bulle op Loftus gekry wat op hulle beurt in die Vrystaatstadion deeglik deur die Cheetahs geklop is.

Met net agt wedstryde elk – vier tuis, vier weg – is daar nie veel plek vir verloor nie. ʼn Span móét dus teen die sterkes wen, veral tuis, as hy titeldrome het.

Gly die WP, met  ʼn rits veranderings in die beginspan, ook teen die Vrystaat, is hulle in die moeilikheid.

Die Bloemfonteiners was verlede week goed op stryk teen ʼn Bullespan wat te veel foute gemaak het. Sonder hulle kaptein Francois Venter sal dit Vrydag herhaal moet word.

Die WP-span lyk ná sy veranderinge sterkte as die een wat teen die Bulle gespeel het en hulle motiveringsvlak sal beslis niks te wense oorlaat nie.

♦ Op Bolandpark durf die Sharks die Boland Kavaliers aan met van hulle senior spelers wat ruskans kry en in Durban agtergebly het.

Die Boland is feitlik onherkenbaar van verlede jaar se span toe hulle tweede laaste in die swakker Eerste Liga gespeel het, net twee uit tien wedstryde gewen het en 61 drieë afgestaan het.

Tog sal die aansienlike hoër vlak heelwat aanpassing verg, nuwe bestuur, afrigtingspan en spelers ten spyt.

Die KwaZulu-Natallers, selfs sonder manne soos  die haker Franco Marais, die Bokslot Stephan Lewies en ook Lwazi Mvovo wat nie gekies is nie ondanks sy vrystelling uit die Bokkamp, lyk egter te sterk.

♦ Griekwapark in Kimberley is saam met die Noordwes-stadion in Welkom seker die meeste spanne se nagmerrie. Albei velde is kliphard.

Griekwas, met van jaar tot jaar ʼn baie hoë omset in spelers, het as span dieselfde ongenaakbare benadering as al die jare..

Hulle is kliphard, speel meedoënlose rugby en maak gereeld van die groot spanne skrik.

Johan Ackermann, die Goue Leeus se afrigter, wéét hierdie dinge. Hy het van 2003-’05 in 32 wedstryde vir Griekwas gespeel.

Dis nie al nie. Swys de Bruin, die Leeus se assistentafrigter, het Griekwas van 1999-2003 afgerig (en dus vir Ackerman in 2003 en ook vir ʼn jong Victor Matfield in 1999 en 2000 onder hande gehad).

Die Leeus sal Saterdag opdaag met 10 spelers (twee in die beginspan, agt op die bank) wat by die Supereindstryd in Wellington betrokke was. Hulle behoort te wen, maar dit sal kliphard wees.

♦  Op Loftus sal die Blou Bulle na verwagting op ʼn drafstap wen teen die OP Kings wat na hulle klomp beserings in die wedstryd van leenspelers uit ander provinsies gebruik moet maak.

Ironies is Justin Forwood, wat Tukkies in die Varsitybekerreeks verteenwoordig het, en `n Blou Bulle-losskakel Kobus Marais die twee manne wat op hulle tuisveld teen hulle tuisspan vir die Kings sal speel. Forwood het al verlede week vir die Kings as plaasvervanger gespeel.

Die Bulle-afrigter Nollis Marais sal ongetwyfeld meer belangstel in die hou by strukture en die aangryp van geleenthede deur sy span as in die eindtelling.`n Herhaling van verlede week se insinking sal hy ongetwyfeld nie duld nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.